GEORGE NUUS - 'n Onderonsie oor verkiesingsplakkate tussen die PBI se nasionale organiseerder Elroy Ruiters en die Good-kandidaat vir wyk 16, Theresa Fortuin, het geëindig met 'n saak van crimen injuria teen Fortuin.
Fortuin het by navraag gesê sy was geskok toe sy hoor van die klag wat teen haar aanhangig gemaak is.
Die beweerde voorval het verlede Vrydagoggend, 15 Oktober, in Beachweg plaasgevind. Fortuin het gesê sy het gereageer op 'n boodskap van iemand wat haar gewaarsku het dat "ouens" besig is om Good-plakkate om te draai op die pale. "Ons wou gaan kyk want ons het juis soveel probleme waar ons plakkate van die pale afgehaal word," het Fortuin gesê.
Volgens Ruiters het Fortuin in die middel van die pad gestop waar hulle besig was om plakkate teen lamppale op te sit. Fortuin sou glo vir Ruiters, wat fisies gestremd is, op 'n onvanpaste, dreigende manier aanspreek.
Volgens Fortuin was daar geen rusie tussen hulle nie, en het sy slegs gevra of die PBI besig is om hulle plakkate om te draai.
"Ek het gesien die een plakkaat waar hulle nog nie was nie, is gedraai. Ek het vir hulle genoem dat die wind ook 'n rol kan speel. Die een ou se stem was 'n bietjie hard, maar ek het my glad nie aan hom gesteur nie. Ek het wel vir hulle gesê dis daai tyd van die jaar en die gemoedere is maar hoog. Ons moes verder ry, want ons was in die pad in 'n voertuig en die verkeer het aangekom. Ek het niks van daai woorde kwytgeraak wat Ruiters beweer ek gesê het nie."
Good-kandidaat Theresa Fortuin.
Ruiters het gesê hy het Fortuin herinner aan die wet teen geslagsgeweld en vir haar gesê sy sal op die kameras kan sien of hulle aan die plakkate gepeuter het: "Sy het toe gery. Ek het 'n klag teen haar gemaak omdat sy my karakter geskend het. Ek is gestremd nadat ek 'n ruggraatbesering opgedoen het, daarom loop ek kruppel."
Fortuin het gesê die Good-party is nie in 'n fighting spirit nie, maar in 'n oorwinning spirit: "Ons leiers maak ons daagliks daarvan bewus dat ons gefokus moet bly en dat niks ons van stryk moet bring nie."
In 'n verklaring deur die PBI het die party die beweerde aanval ten sterkste veroordeel: "Ons grondwetlike demokrasie waarborg ons politieke regte, met inagneming van die reg tot vrye politieke aktiwiteite. Daar is 'n groot mate van vrees en paniek oor die opkomende verkiesing en ons kan nie politieke partye en politici toelaat om wetteloosheid en anargie te bevorder nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'