GEORGE NUUS - Erfenisdag het 'n spesiale betekenis vir Clive Scheepers, 'n bekende gemeenskapsleier van Borcherds. Scheepers was al die jare by die ANC betrokke as 'n aktivis, maar het dié dag gekies om by die Good-party aan te sluit.
Scheepers het sy dag saam met Donovan Saptoe, die verkeershoof van George*, en parlementslid Brett Heron, die leier van die Good-party, by die see naby Pacaltsdorp geniet.
Saptoe het reeds 'n geruime tyd gelede by die party aangesluit en beklee die posisie as streekfasiliteerder vir Good in die Suid-Kaap. Saptoe was ook vir jare 'n ANC-ondersteuner. Hy het by navraag gesê dat hy nie sy werk en politiek meng nie.
"Clive is 'n groot aanwins vir die party. Ons verwelkom hom met ope arms," het Saptoe gesê.
* Saptoe is nou bykans 'n jaar tuis nadat hy op 24 Oktober verlede jaar gevra is om sy kantoor te verlaat. Hy wag intussen vir sy tugverhoor. Saptoe se beweerde wangedrag sluit in sy weiering om wettige en redelike opdragte van die direkteur van beskermingsdienste,
Steven Erasmus, te gehoorsaam; en gedrag wat geag word as ondermynend tot die werksaamhede van die direktoraat. "Intussen wag ek geduldig, daar is niks verder wat ek kan doen nie. Ek is wel bewus dat dinge maar 'n bietjie rof gaan by die verkeersdepartement," het Saptoe gesê.
'n Navraag oor Saptoe se verhoor is na George-munisipaliteit gestuur.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'