GEORGE NUUS - Die DA se George-kiesafdelingsbestuur van 2016 word tans dissiplinêr verhoor deur hul party se Federale Regskommissie. Volgens inligting handel die kwessie oor 'n deposito van R52 500 wat die vorige bestuur vir T-hemde vir die 2016-verkiesingsveldtog aan 'n besigheid betaal het.
Die twaalfstuks, waaronder George-burgemeester Melvin Naik, Marlene Viljoen, Mxolisi Nyakati, Mercia Draghoender en Flip de Swardt, moet nou verduidelik hoekom hulle van 'n besigheid gebruik gemaak het wat nie op die DA se databasis verskyn het nie. Naik was destyds die tesourier.
Die voormalige burgermeester, Charles Standers, wyle Daniël Maritz en Gert Niehaus, wat intussen die party verlaat het, het ook op die komitee gedien.
Die besigheid ter sprake het blykbaar die T-hemde teen 'n winskopie van R15 stuk aangebied. Die deposito is betaal, maar die T-hemde is nooit gelewer nie.
Dit is oor hierdie einste kwessie wat DA-streekvoorsitter, Jaco Londt, sy humeur verloor het en 'n paar harde woorde laat val het. Londt het bykans sy werk verloor en moes vir maande lank verpligte beradingsessies ontvang.
James Selfe, voorsitter van die Federale Uitvoerende Komitee, het by navraag gesê hy kan ongelukkig nie kommentaar lewer tot tyd en wyl die saak afgehandel is nie.
Die tugverhoor het verlede Donderdag en Vrydag plaasgevind. Dit is egter uitgestel omdat die tyd te min geraak het. Volgens inligting sal dit in Junie weer hervat word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'