GEORGE NUUS - Die DA se federale regskommissie het tans hulle hande vol met klagtes oor DA-raadslede van George.
In die jongste geval het die George-speaker, Iona Kritzinger, 'n klag teen die DA-raadslid Gert Niehaus by die DA-party ingedien.
Niehaus word daarvan beskuldig dat hy 'n opposisie raadslid genader het om 'n mosie teenoor haar, as speaker, in te dien.
Dit volg nadat AIC-raadslid Abel Kiwit, 'n WhatsApp-gesprek tussen hom en Niehaus, met Kritzinger gedeel het.
Volgens Kiwit het die WhatsApp-gesprekvoering in September plaasgevind, waarin Niehaus hom na bewering vra om "'n storie" te dryf.
"Die gedagte was 'n mosie, maar ek het vir hom gesê ons praat môre," het Kiwit gesê.
Hy sê die volgende dag het 'n kort gesprek tussen hom en Niehaus voor die raadsvergadering in die onthaalarea van die raad geskied.
"Ek het 'n worstelinge wroeging gehad met my conscience, want ek het vir myself gevra… ek het nie baie gemaklik gevoel met die suggestie nie, omdat daar alreeds soveel tweespalt binne-in die raad is."
'n Interne DA-tugverhoor het onlangs plaasgevind en die uitslag daarvan word binnekort verwag.
Taakspan kyk na klagtes
Vroeër in November het 'n taakspan, waarvan die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, en ander federale en provinsiale leiers deel vorm, al die George DA-raadslede ondersoek.
Volgens inligting is die taakspan op die been gebring weens die groot volume klagtes wat tans hanteer word.
Die taakspan het twee-en-'n-halwe dae in George deurgebring.
George munisipale bestuurder Trevor Botha (links) en George-speaker Iona Kritzinger.
Swyg soos die graf
Kritzinger wou geen kommentaar oor die laaste ondersoek lewer nie. "Die saak is nog nie gefinaliseer nie, ek wil niks daaroor sê nie," het sy gesê.
Luidens haar klagtebrief spruit die wrywing tussen haar en Niehaus uit die parkeerplek-saga waarby Niehaus en 'n mede DA-raadslid Johan Stander, betrek word.
Niehaus het glo tydens 'n vorige geleentheid haar hantering van die ondersoek gekritiseer.
Niehaus wou nie kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie: "Geen kommentaar. Praat met my prokureur Frances Schröter. Mag ook nie my naam noem nie," het hy gesê.
DA-lid van die provinsiale wetgewer, Tertuis Simmers, het by navraag gesê: "As die politieke hoof van George neem ek kennis van hierdie saak teen raadslid Niehaus en ek respekteer alle interne prosesse van die party.
Abel Kiwit reken hy het die "regte ding" gedoen. Foto: Lizette da Silva
"Die federale voorsitter, James Selfe, sal meer substantiewe kommentaar op hierdie saak kan lewer." Selfe het by navraag gesê hulle kan ongelukkig nog geen verdere inligting hieromtrent gee nie.
Volgens prosedure het Niehaus tien dae om te reageer op die federale uitvoerende komitee (FUK) se bevindinge, na ontvangs daarvan. Schröter, Niehaus se regsverteenwoordiger, het by navraag gesê haar kliënt gaan nie kommentaar lewer voordat die proses nie afgehandel is nie.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'