GEORGE NUUS - Direkteur van korporatiewe dienste, Siphiwe James, word tans ondersoek oor die aanstelling van 'n waarnemende bestuurder in sy department.
Hierdie besluit om 'n Seksie 106-ondersoek van stapel te stuur is verlede Donderdag, 25 Augustus, tydens 'n George-raadsvergadering geneem. Die item is in die konfidensiële afdeling van die agenda bespreek.
George Herald het verneem dat James se versoek om 'n skikkingspakket van die hand gewys is. James het alle navrae na die munisipale bestuurder, dr. Michele Gratz, verwys.
Chantèl Edwards, munisipale woordvoerder, het gesê George-munisipaliteit lewer geen kommentaar oor personeelverwante aangeleenthede nie.
"Neem asseblief kennis dat die bespreking van vertroulike items buite 'n raadsvergadering verbied word ingevolge die gedragskodes vir raadslede en amptenare, en sal daartoe lei dat dissiplinêre stappe geneem word," het Edwards gesê.
Siphiwe James
Saptoe
In nog 'n verrassende wending het Good-raadslid Donovan Saptoe as raadslid bedank. 'n Item wat handel oor 'n ondersoek rakende Saptoe, wat blykbaar versuim het om drie agtereenvolgende komiteevergaderings by te woon, is verlede week van die agenda onttrek.
Die hoofsweep van die raad, Marlene Barnardt, het verduidelik dat die item onttrek is omdat Saptoe as raadslid bedank het.
"Saptoe decided to resign as a councillor and not face the music," was Barnardt se kommentaar na die afkondiging. Dit het hewige reaksie by die opposisielede ontlok.
Beide Faith Mdaka van die ANC en Theresa Jeyi van Good het opgemerk dat daar jag gemaak word op Good-raadslede.
Saptoe het by navraag gesê hy het reeds verlede Maandag, 22 Augustus, as raadslid bedank, maar dat dit niks te doen het met die aantygings teen hom nie. Hy het glo gevra om van twee van die komitees geskuif te word en dit is volgens hom nooit na behore gedoen nie. "My bedanking het te doen met interne partyprosesse en my toekoms in Good," het hy gesê.
"Ek is meer toegewyd aan Good se vooruitgang en opbou as ooit te vore. Dit is jammer dat die chief whip van die raad besluit het om punte as DA-raadslid te probeer score rondom 'n eenvoudige item."
Dit is nog nie duidelik wie Saptoe se plek in die raad oorneem nie.
Hector
Volgende op die agenda was twee items oor Good-raadslid Richard Hector, rakende 'n beweerde oortreding van die gedragskode vir raadslede. Die aanbeveling op die eerste agendapunt was om die bewerings van die hand te wys en dus nie op te tree nie. Op die tweede beweerde oortreding is die raad ingelig dat daar wel 'n ondersoek sal plaasvind.
Speaker Sean Snyman het gesê hy het geen ander opsie as om die bewerings te laat ondersoek nie. Die beweerde oortreding hou verband met wangedrag teenoor 'n amptenaar tydens 'n vergadering.
PBI-raadslid Virgill Gericke, het tydens die item met die speaker in 'n woordestryd getree. Hy het gesê daar word verstaan dat die speaker ook by dieselfde vergadering teenwoordig was en moontlik as 'n getuie geroep mag word en dus nie as speaker met die betrokke item mag optree nie omdat dit 'n konflik van belange sou wees.
Donovan Saptoe
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'