GEORGE NUUS - Die DA-wyksraadslid vir Conville, Molenrivierrif en George Industria (wyk 17), Vincentius Muller, het vandag (Dinsdag 26 Mei) as raadslid bedank. Dit plaas die totale hoeveelheid tussenverkiesings wat later vanjaar gaan plaasvind op vier.
Anders gestel, is die DA-raadslede tans minus vier in die George-raad, wat dinge vorentoe effe ongemaklik kan maak vir besluitneming, met net 24 raadslede.
Die PR-posisie wat vroeër deur die voormalige George-burgemeester Melvin Naik bekleë is, word tydelik deur Lizelle Pienaar gevul, 'n administratiewe beampte van die DA. Die pos sal permanent gevul word na 'n keuringsproses afgehandel is. Die nominasieproses het reeds begin. Vir die posisies van die vier wyksraadslede moet daar egter tussenverkiesings plaasvind.
Muller het sedert sy verkiesing as raadslid in 2016 steeds 'n pos as maatskaplike werker by die departement van korrektiewe dienste (DKD) beklee. Sy jaarlikse aansoek om as deeltydse raadslid werksaam te wees, is vroeër vanjaar vir die eerste keer deur dié departement afgekeur. Muller het sedert Maart nog nie weer 'n raadsvergadering bygewoon nie.
Volgens die DA-streeksvoorsitter, Jaco Londt, moes Muller weens sy werksverpligtinge by DKD 'n keuse maak oor "waarheen hy sy energie wil kanaliseer".
Muller het by navraag gesê die besluit om te bedank is in sy eie belang, sowel as die belang van sy familie. "Na deeglike oorweging het ek tot die slotsom gekom om my raadspligte neer te lê in lyn en met my werksaamhede by DKD voort te gaan. Dankie vir die geleentheid wat my beskore was om die gemeenskap van wyk 17 te dien. Dit was 'n eer en voorreg," het Muller gesê.
Verkiesings
Londt het gesê die tussenverkiesings vir wyke 8, 14, 27 en nou óók wyk 17, sal na verwagting almal op dieselfde dag plaasvind. "Die OVK (onafhanklike verkiesingskommissie) sal weldra bevestig of dit inderdaad die geval is," het Londt gesê.
Die OVK het hulle reeds drie keer na die howe gewend vir toestemming om die tussenverkiesings uit te stel, as veiligheidsmaatreël vir die voorkoming van die verspreiding van Covid-19.
Volgens die OVK se provinsiale woordvoerder, Courtney Sampson, wag hulle tans vir die hof se beslissing oor of die tussenverkiesings kan voortgaan, al dan nie. "Die uitdaging van tussenverkiesings is die hoeveelheid mense wat betrokke is op een gegewe tyd. Dit kan moontlike gevolge dra vir die verspreiding van die virus," het Sampson gesê.
Terugvoer van die OVK se nasionale woordvoerder oor die waarskynlike uitstel van die 2021 plaaslike verkiesings na die einde van volgende jaar, word afgewag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'