GEORGE NUUS - Die George-raad sou Dinsdagoggend besluit of 'n hooggeplaaste amptenaar geskors moet word of nie. Die amptenaar moes glo redes aanvoer waarom hy nie geskors moet word nie. Die klagtes hou na bewering verband met 'n brief van die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, waarin die amptenaar van moontlike korrupte verhoudings met kontrakteurs beskuldig word.
'n Ander item wat op die vergadering sou dien hou verband met 'n bedrag van R350 miljoen wat glo deur 'n familielid van 'n raadslid namens die munisipaliteit belê is.
Die raadsvergadering kon egter nie plaasvind nie, want die DA-koukus het nie die vergadering bygewoon nie. Die speaker, Gerrit Pretorius, is tans oorsee.
Volgens inligting het die DA-koukus besluit om nie die vergadering by te woon nie, omdat dit glo nie wettig sou wees nie en omdat Pretorius moes verslag lewer oor een van die items. Die DA se koukusvoorsitter, Vincentius Muller, het by navraag gesê die koukus het die saak bespreek en 'n paar bekommernisse is gelig ten opsigte van die prosedure wat gevolg is. "Ons is verplig om 'n regsproses te volg in die afwesigheid van die spreker, in terme van die struktuurwet," het hy gesê.
PBI-raadslid Virgill Gericke, het gesê die DA-koukus se weiering om die raadsvergadering by te woon is onwettig, want geen party se koukus kan besluit om die raad se verrigtinge te verontagsaam nie. "Pretorius moes die vergadering belê, maar in die afwesigheid van die speaker moet die munisipale bestuurder die vergadering belê," het hy gesê. "As gevolg van 'n botsing van belange het Botha vir Siphiwe James, waarnemende direkteur van koöperatiewe dienste, gevra om die vergadering te belê. Dit was dus wettig. Daarom is dit onverklaarbaar waarom die DA nie die vergadering wou bywoon nie.
"Twee baie belangrike items sou op die vergadering bespreek word. Hierdie optrede van die DA is kwaadwillig en het ten doel om die interne tugprosesse in die wiele te ry en gevolglik sal individue skotvry daarvan afkom. Die opposisie moes eintlik 'n dringende hofinterdik bekom om die DA te verplig om die vergadering by te woon."
ANC-raadslid Piet van der Hoven het gesê die DA steek die inwoners van George in die rug.
"Wat is 'n skoon regering as tugprosesse ondermyn word?" het hy gesê. "Daar was 'n groot debat oor wie die vergadering geroep het. Die raad sou ‘n speaker moes kies, maar die DA het ‘n kworum weerhou."
Volgens Van der Hoven was die burgemeester, Melvin Naik, die enigste DA-lid wat die vergadering bygewoon het. "Die ander DA-raadslede het deur die glasvenstertjie geloer wat in die raad aangaan."
DA se koukusvoorsitter, Vincentius Muller.
* The George Council would have taken a decision on the possible suspension of a highly placed official on Tuesday 17 July. The official had to provide reasons why he should not be suspended. The allegations are related to a letter from the Western Cape Minister of Local Government, Anton Bredell, in which the official is accused of possible corrupt relationships with contractors. Another item that would have served at the meeting relates to an amount of R350-million allegedly invested by a relative of a councillor on behalf of the municipality. However, the council meeting could not take place because the DA caucus did not attend the meeting.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'