TUINROETE NUUS - Daar moet 'n nuwe speaker vir die Garden Route-distriksmunisipaliteit gekies word, nadat Eleanor Bouw-Spies onder die DA-vaandel tot die Nasionale Vergadering in die parlement verkies is.
Bouw-Spies, die dienende speaker in die Garden Route-distriksmunisipaliteit, is ook die wyskraadslid vir wyk 5 in Knysna wat beteken dat 'n munisipale tussenverkiesing gehou moet word.
Sy is een van die mees ervare politici aan die Tuinroete en was in die verlede ook onder meer burgemeester van Knysna. Sy is al 16 jaar betrokke by die politiek. Voordat sy verkies is tot die parlement, moes sy deur 'n deeglike keuringsproses in die DA gaan.
Haar man, Rowan Spies, is hoofsweep van die Garden Route-distriksmunisipaliteit en 'n raadslid.
Sy sal na verwagting haar sitplek aanstaande week in die land se hoogste politieke vergadersaal inneem.
Bouw-Spies het aan die George Herald gesê sy is opgewonde oor die nuwe uitdaging. Sy glo sy kan 'n bydrae lewer.
Die uitdagings wat wag sal fokus op nasionale aangeleenthede en dit sal deursyfer na die plaaslike regeringsfeer.
"Ek sal graag my vaardighede van plaaslike regering wil aanwend."
Volgens Bouw-Spies is daar beslis ruimte vir verbetering om die gaping tussen die nasionale regeringsfeer en die plaaslike regeringsfeer te verminder.
Spokuhle Patrein.
Sy het benadruk sy gaan beslis nie Knysna vergeet nie. Sy behou haar bande met die Oesterdorp en sal pendel tussen Knysna en Kaapstad. "Knysna is my huis. My familie is steeds hier."
n Bouw-Spies is nie die enigste DA-lid van die streek wat haar politieke loopbaan op 'n ander regeringsfeer gaan voortsit nie.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek gaan weer sy sitplek in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) inneem. Saam met hom op die NRP-banke gaan Isaac Sileku, die dienende onderburgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, sit.
Alan Winde, die aangewese premier van die Wes-Kaap, Donald Grant en Tertuis Simmers gaan almal terug na die Wes-Kaapse wetgewer.
Winde is oorspronklik van Knysna, Grant van Bitou en Simmers van Bitou en deesdae van George.
n Uit ANC-geledere gaan Lulama Mvimbi waarskynlik na die Wes-Kaapse wetgewer. Hy is 'n voormalige burgemeester van Bitou. Hy het by navraag gesê hy sal later 'n verklaring uitreik sodra dit amptelik bevestig is.
Spokuhle Patrein van Thembalethu, George gaan onder die ANC-vaandel na die Nasionale Vergadering in die parlement.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'