TUINROETE NUUS - Die DA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap, Alan Winde, het die afgelope week verskeie dorpe in die Suid-Kaap en Klein-Karoo besoek. Hy was tot onlangs die Wes-Kaapse minister van ekonomiese ontwikkeling, maar is tans die provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid.
Dit volg nadat die vorige minister in dié pos, Dan Plato, as die burgemeester van Kaapstad aangestel is.
Helen Zille, die huidige premier, het Winde vergesel en by verskeie geleenthede die suksesse wat Winde in die Wes-Kaap behaal het, uitgelig. Volgens haar was een van sy grootste suksesse werkskepping in die provinsie. Meer as 50% van werksgeleenthede wat verlede jaar landwyd geskep is, is in die Wes-Kaap geskep.
Zille en Winde het Vrydagaand tydens 'n galadinee in die banketsaal van die burgersentrum in Oudtshoorn gesê dat die suksesse van die Wes-Kaap bewys dat goeie regering werk. Hulle het ook die burgemeester en bestuur van Oudtshoorn geluk gewens met die vordering wat die afgelope twee jaar gemaak is.
"Ek het op 'n stadium gevra of Oudtshoorn se water getoor is, want daar was elke liewe dag 'n nuwe probleem, maar dit lyk my die water het nou reggekom," het Zille geskerts.
Alan Winde en Helen Zille neem deel aan Saterdag se feestelikheid in afwagting van Mmusi Maimane se toespraak.
Oudtshoorn se onderburgemeester, Noluthando Mwati, het Zille bedank vir die rol wat sy in haar twee termyne as premier gespeel het, waarop Zille in vlot isiXhosa gereageer het.
Winde het gesê die vorige tien jaar van DA-regering in die Wes-Kaap het gefokus op die bou van 'n gesonde fondasie tydens die eerste vyf jaar en goeie dienslewering tydens die daaropvolgende vyf jaar.
"Die volgende vyf jaar gaan 'n termyn van innovasie wees. Ons moet leer om innoverend te dink en innoverend op te tree en geleenthede raak te sien."
Hy het daarop gewys dat Kaapstad onlangs in 'n peiling aangewys is as die beste stad in Afrika wat rekenaar- en inligtingstegnologie aanbetref.
"Daar is soveel vertroue in die Kaap dat die JSE onlangs 'n kantoor in die Kaap geopen het."
Hy skryf dit daaraan toe dat al meer en meer beleggers na die Wes-Kaap kom omdat hulle dit as 'n veilige en positiewe provinsie vir ontwikkeling ervaar.
Maimane op Oudtshoorn
Die galadinee was die voorloper van 'n groot DA-saamtrek wat Saterdag op die Bridgton-sportterrein plaasgevind het. Die hoofspreker was Mmusi Maimane, die DA se federale leier, wat kiesers aangespoor het om vir die opkomende verkiesing te registreer en te sorg dat die DA in beheer van die Wes-Kaap bly. Tussen 3 000 en 4 000 ondersteuners het die saamtrek bygewoon.
Maimane het herhaaldelik daarop klem gelê dat 'n einde gebring moet word aan die verwysing na verskillende rasse in die land.
"Ons is almal Suid-Afrikaners en ons moet mekaar so behandel. Ons kom uit apartheid uit, maar ongelukkig is die land se huidige regering besig om ons in 'n ander apartheid in te neem."
Eregaste tydens die DA se galadinee Vrydagaand in Oudtshoorn. Van links is Donald Grant (provinsiale minister van vervoer en openbare werke), Tertuis Simmers (DA-kiesafdelingshoof van Oudtshoorn en streeksekretaris van die DA se Oos-streek), prof. Nomafrench Mbombo (provinsiale minister van gesondheid), Helen Zille (premier) Noluthando Mwati (onderburgemeester van Oudtshoorn), Alan Winde (provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid) en Colan Sylvester (burgemeester van Oudtshoorn) Foto's: Hannes Visser, Oudtshoorn CourantHy het daarop gewys dat politici nie posisies moet beklee om hulself te verryk nie, maar om te sorg dat elke burger die beste dienslewering kry.
"Daar is té veel korrupsie, té veel omkopery en oneerlike bemagtiging en dit is die land se ondergang."
Maimane het ook daarna verwys dat die huidige stelsel waar polisielede en polisie-optrede volgens 'n nasionale beleid bepaal word, die Wes-Kaap benadeel.
"Die Wes-Kaap is die suksesvolste provinsie in die land, maar ons kry die minste polisielede. Dit moet verander."
Alan Winde het na afloop van die verrigtinge tydens 'n onderhoud met die pers gesê die DA gaan daadwerklik probeer om die grondwet te wysig sodat provinsies hulle eie polisiediens volgens hulle eie behoefte kan bestuur.
In die volgepakte stadion by die Bridgton-sportstadion.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus nuus'