Die hersiene Yaris-reeks, is nou eksklusief in 5-deur-formaat beskikbaar en word deur die vervaardiger bestempel as 'n baie omgewingsvriendelike motor. Die model waarmee die Suid-Kaap Motorgids gery het, was die en 1,3 petrolenjin met 73 kW en 'n effens nuwer voorkoms.
Hoewel dit heel konserwatief lyk soos 'n goeie Toyota betaam, ding dit in 'n baie aggressiewe mark mee vir verkope.
BEMARKING
Glenn Crompton, visepresident van TMSA Bemarking, sê: "Supermini's verteenwoordig nagenoeg 'n kwart van al die nuwe motors wat in Suid-Afrika verkoop word. Meer as 20 modelle uit Europa, Japan en Korea ding almal om 'n aandeel in dié mark mee.
"Danksy die afgeskaalde reeks se prys voldoen dit nou selfs nog meer aan kopers se immer groter vereistes vir kleiner motors wat bekostigbaar is om te ry en waarmee hulle maklik kan saamleef, maar wat tog steeds stylvol, veilig, gemaklik en prettig is."
Die skuif pas in by Toyota se aggressiewe bemarkingstrategie, waar voertuie soos die Innova, 86, Auris en nuwe RAV4 die beste waarde vir geld in hul onderskeie segmente verteenwoordig.
VOORKOMS
Die netjiese Yaris 1,0 en 1,3 is dus gerig op die mark van koste-sensitiewe kopers wat nie styl wil prysgee net omdat hulle 'n kleiner motor teen 'n billiker prys koop nie. Dit verklaar hoekom die motortjie so gewild is, want hierdie bemarkingsaanslag is sekerlik van toepassing op 80% van alle motorkopers!
Die motor in sy standaard-vorm waarmee ons 'n paar dae lank rondgerits het, het 15" allooi-sierwiele, 'n kleurgepasde buitekant, lugversorging, afstandbeheerde sentrale sluiting en 'n vertoonskerm vir alle inligting. Daar is ook elektries-beheerde buite-truspieëls en -vensters voor, asook 'n klankstelsel met hulpsok en stuurwielskakelaars.
Wat veiligheid betref, is al die Yaris-modelle toegerus met ABS, EBD, BAS (noodremhulp) sowel as lugsakke vir die bestuurder, voorste passasier en aan die kante.
RY SAAM
Die Yaris 1,3 was 'n vaardige klein motor wat gemaklik was op die oop pad en baie veilig bestuur met 'n stewig genoeg padgevoel in en om die stad. Die werkverrigting was voldoende vir heuwels en die motor het heel goed gevaar indien 'n mens die nodige beplanning gedoen het vir opdraandes en om ander, stadige verkeer verby te gaan.
Selfs vir die langer rit van byna vyf uur tot in Blouberg met Vrydagmiddagverkeer, was die sitplekke en bestuursposisie gerieflik - ferm met die nodige ondersteuning om uitputting teen te werk.
SLOTSOM
Dit is beslis 'n motor om op die lysie te sit voor 'n mens enige finale besluit neem. Die laaste indruk van die Yaris is dat dit 'n motor is wat goeie diens sal lewer en lank sal hou. Dit sal waarskynlik nie koppe draai nie, maar vir die oorgrote meerderheid van motorkopers, is dit heeltemal reg so.
BESONDERHEDE
Die Yaris se prys is R180 000, alle belasting ingesluit. Die 1,3 lewer 73 kW met 125 Nm teen 'n gepubliseerde petrolverbruik van 5,2 liter per 100 km.
Die waarborg is 3 jaar of 100 000 km met padbystand ingesluit.
Die motor vir die toetsrit is verskaf deur Halfway Toyota in George. Vir meer inligting, skakel 044 802 8200 of besoek die handelaar op die hoek van Meade- en Courtenaystraat in George.

Die Yaris se prys is R180 000, alle belasting ingesluit. Die 1,3 lewer 73 kW met 125 Nm teen 'n gepubliseerde petrolverbruik van 5,2 liter per 100 km.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'