Gallery
MOTOR NUUS - Sy onvermoë om stil te sit en niksdoen het gemaak dat Dolf van der Merwe (86) nou weer besig is met dit wat hy as kind so geniet het. Speelgoed maak. Tot op hede het hierdie kranige man 64 speelgoedkarretjies van blik gemaak.
Hy het sy grootwordjare op Nuwerus spandeer, die enigste seun onder 'n klomp susters. Maar, vertel hy, hy het darem eenkeer vir sy girl 'n stootwaentjie vir haar pop gemaak. Dit was glo 'n netjiese affêre, kompleet met 'n suspensie - de lot. Dolf het op Mosselbaai kom aftree nadat hy jare in die onderwys was. Hy het tegniese vakke aangebied en na sy uittrede uit die onderwys, 'n adviserende rol gespeel in die tot standkoming en kursusontwikkeling by die plaaslike Suid-Kaap Kollege.
Tot in 2015, was Dolf nog op die bestuur van sy woonkompleks in Mosselbaai en het spesifiek na die keurige tuine omgesien. "Toe ek uittree, het ek nie geweet wat om met my tyd te doen nie."
Op 'n dag, kort na sy uittrede, het Dolf 'n paar plankies in sy motorhuis sien lê waarvan hy toe sy eerste lorrie gemaak het. Toe reken hy, hy kan net sowel voortgaan en nog maak.
Hy werk meestal met blik, verkieslik blikke met rondings. Sy karretjies lyk soos iets uit vervloë dae. "Ek is mos uit die oude doos," spot hy met homself.
Met sy eie kleinkinders al groot en almal meestal elders, het Dolf egter 'n besonderse versoek gekry om 'n pienk Volkswagen Beetle te maak. Dit is vir sy eerste agterkleinkind, 'n dogtertjie wat in Mei verwag word.
Dolf werk op bestelling, maar grotendeels omdat hy dit geniet om besig te bly. Die soektog na al die regte "parte" duur immer voort. Só ondersteun hy oudhede winkels gereeld. Die regte blikkies is noodsaaklik.
Ook nie te verroes nie want dan is die skuurwerk te veel. Spesiale rubberwieltjies is ook 'n móét.
Dolf is beskeie oor sy werk. En wanneer hy nie karretjies maak nie? Dan skryf Dolf gedigte. Hy wys, weer eens met kenmerkende beskeidenheid na 'n stapel A4-bladsye, sy pennevrug. Andersins, is blokraaie sy kos. Hy wys sy netjiese werkswinkel en op pad uit, nóg een van sy kreatiewe idees - 'n trofee gemaak uit wat voorheen 'n nederige baked beans-blikkie kon gewees het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'