Gallery Video
MOTORNUUS - Op slegs 9-jarige ouderdom het Divan Meyer van die Oudtshoorn Motorklub al behoorlik sy stempel afgedruk op motorsport in Suid-Afrika.
Divan het as 'n tjokkertjie vir die eerste keer op 'n kalkbaan by Bredasdorp in 'n Ninja Midget deelgeneem. Hy was net ses.
Kort daarna het hy in Oudtshoorn se bekende ovaalbaan begin deelneem met sy Quad.
Tevrede dat sy hantering van die voertuig op standaard is en dat Divan se vernuf groot belofte toon, het sy ouers, Clive en Vicky vir hom 'n Mini gekoop.
Fotogalery: Divan druk sy stempel af
Net verlede week het Divan weer gewys dat 'n blink toekoms as renjaer vir hom voorlê, toe hy 'n skitterende tweede plek by die Worcester-Motorklub losgejaag het.
Divan loop tans voor op punte in sy klas op klubvlak asook in die Suid-Westelike distrik.
Kyk 'n verskafde video hieronder:
Hy is 'n gr. 3-leerder by Holy Cross Primary in George en kom uit 'n familie waar sy ma en pa al sedert 2002 renmotors ry. Oupa Chris Koekemoer was 'n voorloper in versnelwedrenne (drag racing) en Divan het langs die ovaalbaan groot geword.
Vicky sê Divan is letterlik van die hospitaal af reguit renbaan toe. "Hy is baie braaf en geniet uitdagings, al is hy so klein. Hy wil graag V8's en Hotrods gaan ry saam die groot manne, maar mamma se hart sal dit nog nie kan hanteer nie!" sê Vicky. "Divan loop aandklasse en ons leer hom al van kleins af al die vlae en reëls. Hy is bevoeg om in enige situasie verantwoordelik op te tree. Ons is baie trots op hom en sien nog groot dinge wat voorlê."
Divan Meyer se ouers glo hy kan enige situasie agter die stuur hanteer.
Divan ry komende Saterdag, 18 September in George se Spring Festival-resies en op 9 Oktober neem hy deel aan Oudtshoorn se grootste wedren, die Klein-Karoo Kampioenskappe waar Divan se Mini vanjaar op die volstruiseiertrofee pryk omdat hy laasjaar die Mini-klas gewen het vir jaers tussen 7 en 13.
Motorsport-entoesiaste kan kaartjies koop en die wedren aanlyn kyk.
Oppad na groot dinge...
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'