MOTOR NUUS - Noudat 2018 tot die geskiedenis behoort, is dit insiggewend om te sien hoe die bedryf gevaar het. Met 'n groottotaal van 552 226 eenhede vir 2018 – wat ook groot vragmotors en busse insluit – slaag die bedryf net-net daarin om 'n gees van negatiwiteit te ontwyk.
Intussen het WesBank se Chris de Kock voorspel dat die 2019-totaal met een persentasiepunt gaan krimp - ofte wel met amper 6 000 eenhede.
Soos verwag kan word, was markleier Toyota weer 'n keer in die eerste plek met totale verkope van 130 403 eenhede wat aan hom die eerste plek in die bakkie-afdeling (60 233) en die tweede plek in die afdeling vir passasiersvoertuie (70 170) besorg het. Volkswagen beklee die tweede plek met 'n totaal van 89 370 voertuie en die eerste plek in die afdeling vir passasiersmotors. Sy ligte handelsvoertuie sukkel maar met 'n beskeie 6 082 eenhede.
Soos verwag, lê Ford in die derde plek met 'n totaal van 57 775 verkope waarvan sy ligte handelsvoertuie vir 31 102 verkope gesorg het.
Dis darem nog so 'n paar treetjies voor Nissan se 55 429 eenhede wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan sy 33 077 bakkie- en paneelwaverkope.
Hierna rek die gaping tussen die topvier en Hyundai wat verras met 'n stewige 35 636 danksy sy passasiersvoertuie (32 288) en 3 348 handelsvoertuie. Die Franse vervaardiger Renault staan sterk in die sesde plek met 'n indrukwekkende 25 500 in totaal waarvan net 67 ligte handelsvoertuie is. Die sewende plek behoort aan BMW (18 260) wat net op passasiersvoertuigverkope staatmaak en desondanks daarin slaag om Mercedes-Benz (16 830) te troef.
Ook Kia in agtste plek (17 335) het vir 'n verrassing gesorg danksy sy passasiersmotors (15 941), terwyl Isuzu (16 258 en tiende) ook aan Mercedes-Benz se hakke begin hap.
Mercedes-Benz se wa word by wyse van spreke, deur die drif getrek deur sy 16 164 passasiersmotors wat aan hom die negende plek besorg.
Wat ook onder hierdie jaareindsyfers uitgestaan het is goeie vertonings deur Mahindra. Die fabrikaat was sewende in die afdeling vir ligte handelsvoertuie met 3 342 verkope en altesame 5 636 eenhede. Mazda met 14 091 passasiersmotors en 552 bakkies het so byna-byna die toptienlys gehaal.
Hou gerus ook vir GWM (agtste onder die bakkie-verkopers met 1 894 eenhede) dop.
Intussen lyk dit nie of die swak ekonomie die superrykes laat sweet nie, want Bentley (88), Ferrari (79), Maserati (86) en Porsche, met 'n indrukwekkende 1 332 verkope, behaal steeds lag-lag hulle verkoopteikens. Wat vanjaar se vooruitsigte betref, bly die vraag steeds of Toyota uiteindelik by 25% markaandeel gaan uitkom al sukkel Lexus-verkope, en hoe lank dit gaan neem vir die twee Japanse aanspraakmakers op top-10-posisies (Mazda en Suzuki) om tot hierdie uitgelese groep toe te tree – en natuurlik ten koste van wie.
Een vraag bly egter onbeantwoord – is daar rêrig mense wat Mercedes-Benx se X-klas/Navara koop?
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'