MOTOR NUUS - Die vinnige groei van die sportnuts van 'n spesialisvoertuig na die hoofstroom was een van die grootste motorveranderinge van die 21e eeu. Die naam sportnuts verwys na enige voertuig wat 'n dubbele funksie kan speel met 'n hoë sitposisie agter die stuur, groter grondvryhoogte en baie laairuimte.Sportnutse het in alle segmente van die tradisionele motormark ontwikkel en het nou 'n magdom vorms en groottes.
Toyota Rush, is 'n model wat op die kleinsportnuts-segment gerig is. Dit is 'n produk vir die nuwerwetse stedeling wat aanmoedig om 'n eie avontuur te begin.
Van voor, het die nuwe Toyota Rush 'n hoekige ontwerp met spits ligdiode-kopligte en 'n groot trapesiumvormige sierrooster. Die rooster het wye horisontale dwarslatte in donkergrys met die Toyota-kenteken in die middel. 'n Kontoerlyn skei die boonste en onderste lugskorte en skep 'n driehoekige plek vir die misligte. 'n Silwer glyplaat en dubbele enjinkaphobbels rond die vooraansig af.
Die sykantontwerp beklemtoon die Rush se indrukwekkende grondvryhoogte, terwyl die swart wielnisbeslag en onderste paneelversierings 'n robuuste element byvoeg. 'n Merkbare keeplyn vloei van die voorwiel na die kant van die stertlighulsels vir 'n gevoel van beweging. Bypassende swart dakspore en 'n rompkleurige agterste drukvlerk op die dak skep 'n eenvormige voorkoms.
Die agterontwerp beklemtoon die ligte met horisontale lyne en 'n vloeiende kontoerlyn van die buffer tot by die uitlaatpyppunt.
Kopers het 'n keuse van vyf rompkleure: Tusk White, Quicksilver, Ruby Metallic, Liquid Bronze Metallic en Graphite Black.
BINNE
Die binneruim het 'n fris, simmetriese uitleg met gemaklike werksones wat op ergonomie berus. Die boonste deel van die voorpaneel het 'n raakskermklankstelsel met Bluetooth, USB en Android Auto Plus Show of Apple CarPlay-werking. Hierdie hoëtegnologie-klankeenheid bied ook 'n gebruiker-aanpasbare uitleg en toeps (apps) - lewensbelangrik vir elke millenniër-kliënt.
Die onderste deel van die voorpaneel huisves die dubbelsone-klimaatbeheer, 'n 12V-sok en bergruimte.
Kontrasterende beslag en chroomhoogtepunte word op die voorpaneel en deurpanele gebruik om 'n aanloklike ruimte te skep. 'n Driespeek-leerstuurwiel wat kantel en afstandbeheerde skakelaars gee die bestuurder 'n stewige greep vir die langpad.
Die instrumentehuisie spog met groot, duidelik leesbare grafika met 'n koel, blou motief en chroomomlyning. Die vertoonskerm in die middel, dra inligting wat self gekies kan word, aan die bestuurder oor. Dit sluit selfs 'n volkleur eko-aanwyser in.
Die sitplekke wat goeie steun bied, is uiters duursame in swart patroonmateriaal afgewerk en aanvullende swart insetsels word in die deurpanele gebruik. Die agtersitplekke het drie onafhanklik verstelbare kopstutte en kan in die verhouding 60/40 vorentoe kantel.
VEELSYDIGHEID
Padvakansies en lang ritte vereis genoeg bekerhouers en bergruimte, wat die Rush gewis het. 'n Tweede 12V-kragsok is vir die agterste insittendes beskikbaar.
'n Gerieflike bagasieruim van 609 liter word voorsien terwyl die Rush sitplek vir tot vyf mense het. Die agtersitplekke kan onafhanklik platgevou word vir meer bergruimte.
Die Toyota Rush het 'n uitgebreide lys toerusting soos van 'n voertuig in hierdie segment verwag sou word. Dit sluit elektries-verstelbare en voubare deurspieëls, ligdiodekopligte wat outomaties aan en af kan skakel, dakspore en misligte in.
Die raakskerm-klankstelsel met ses luidsprekers bied nie net die Android Auto Plus Show-, Miracast- en CarPlay-werking nie, maar het ook ingeboude satellietnavigasie. Die insittendes kan hul eie slimfoontoepassings soos Apple Maps, Google Maps en Waze (afhangende van die toestel) saam met musiekstroomtoepassings soos Apple Music, Spotify en Google Music, gebruik.
'n Ingeboude trurat-kamera en parkeerhulp (PDC) bied gerief en veiligheid. 'n Sleutellose stelsel met 'n toegangskakelaar aan die deurhandvatsel en aansitterknop maak dit vir die bestuurder selfs nog makliker om die motor oop te sluit en aan te skakel.
VEILIGHEID
Die Rush kan spog met omvattende veiligheidseienskappe. Aktiewe veiligheidstelsels sluit in: voertuigstabiliteitsbeheer (VSC), sluitwerende remme (ABS) en opdraande-wegtrekhulp (HAC).
Die passiewe veiligheidstelsels behels ses lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier sowel as kantlugsakke en lugsakgordyne in.
'n Alarm en immobiliseerder asook as outomatiese sluiting, beheer toegang tot die voertuig.
Die Rush word deur 'n viersilinder-enjin van 1,5 liter met dubbele bonokasse aangedryf. Dié enjin se verrigtingsyfers is 77 kW teen 6 000 r/min en 136 Nm teen 4 200 r/min. Die enjin maak ook gebruik van Toyota se VVT-i-stelsel vir meer doeltreffende werkverrigting.
Kopers het die keuse van 'n vyfgang-handratkas of outomatiese viergantransmissie wat die agterwiele aandryf.
Brandstofekonomie is 'n sterk fokuspunt van die handratweergawe wat 6,6 liter per 100 km gebruik, terwyl die outomatiese model se verbruiksyfer op 6,7 liter per 100 km te staan kom. Die Rush se CO2-syfers is 156 en 158 g/km onderskeidelik.
GRONDVRYHOOGTE
Een van Rush se sleuteleienskappe is sy ruim grondvryhoogte van 220 mm, wat saam met sy invalshoek van 31 grade en vertrekhoek van 26,5 grade maklike gebruik op paaie van verskillende oppervlakke moontlik maak. Die Rush het 'n indrukwekkende waterrydiepte van 600 mm wat dié nuweling in staat stel om die meeste waterkruisings baas te raak.
Stylvolle 17"-allooisierwiele met deftige speke, gee die motor 'n geharde voorkoms. Die wiele is met 215-60-R17-bande geskoei en 'n volgrootte noodwiel word voorsien.
WAARBORG EN PRYSE
Die diensplan vir ses versienings of 90 000 kilometer, is deel van die standaard-aanbieding en word deur 'n waarborg van drie jaar of 100 000 km gesteun. Die versieningstussenposes is elke 15 000 kilometer.
Aanbevole kleinhandelpryse is: Rush 1,5 MT - R299 900 en Rush 1,5 AT - R 313 500.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'