MOTORNUUS - In Mei is 'n splinternuwe Golf 8 GTI op Facebook te koop aangebied vir R720 000. Ek het dadelik vir Christa Koen by ons plaaslike VW-agentskap gebel om te hoor waar sy die nuwe GTI wegsteek. Sy het my verseker hulle kom eers in Julie en sy het geen idee waar die Facebook-adverteerder die nuwe Golf gekry het nie.
Ek besluit toe om die Golf GTI se storie heel aan die begin te gaan haal, doer in 1974, en die storie te vertel tot by die bekendstelling van die Golf 8 GTI op 19 Julie.
Die Golf 1 is in 1974 in die res van die wêreld bekendgestel, maar het eers in 1978 sy opwagting in Suid-Afrika gemaak. Dié Golfies het 1100cc en 1300cc enjins gehad en diegene wat een gery het, sal weet - daai kleppe het baie gebrand. Met die aanbreek van 1981 sit VWSA die astrante Golf 1 GTI op die mark. Ek was in die bevoorregte posisie om een te ry. Wat 'n fantastiese kar. Die GTI het die maatstaf tussen talle vervaardigers geword om te klop, tot vandag toe nog.
Met die aankoms van die Merk II Golf in 1983, het VWSA besluit om die Merk I nog nie te laat sterf nie. Die Citi Golf is gebore, wat steeds op ons paaie te sien is. Die vervaardiging van die Citi Golf is uiteindelik in 2009 gestop.
Die Golf 1 is 1974 in Suid-Afrika bekendgestel. Vanaf 1984 tot 2009 is hulle hier as die Citi Golf verkoop.
Van die laaste vyf Golf I's wat in Uitenhage vervaardig is, is vier na 'n privaat versamelaar in Europa, en die vyfde een staan in die VWSA-museum in Uitenhage met die handtekeninge van 'n ieder en elk wat op die Citi Golf se monteerlyn gewerk het.
Lekker warm weergawes het uit die Golf I stal gekom. Dink aan die vinnige GTI en die GTS. Ons het gespot en gesê GTS staan vir Geraas, Tekkies en Strepe. Dan was daar ook later 'n haastige CTI - baie skaars en gesog.
In 1983 word die Golf 2 in Suid-Afrika bekendgestel. In 1985 word die GTI op ons paaie losgelaat met dieselfde enjin as die Golf 1 GTI.
In 1988 word die GTI 1.8 L 16-klep weergawe plaaslik bekendgestel - uit en uit vir renbane, en Sarel van der Merwe en Geoff Mortimer het dan ook die land se renbane behoorlik aan die brand gejaag.
Gedurende 1991 het VWSA die Golf 3 SA toe gebring. Die GTI se enjin is vergroot van 1.8 liter na 2.0 liter. Dit was ook die eerste jaar wat dieselenjins beskikbaar geword het. Die GTI is aangevul met die 2.8 V6 model - die VR 6.
Mens sien hulle steeds in aksie op ovaalbane.
Die Golf 4 het in 1997 gevolg en die GTI 4 is aangevul met die R32 model. Dit was 'n 3.2 liter V6 wat 177 kW ontwikkel het met 'n topspoed van 247 km/h.
In 2003 het die Golf 5 GTI sy aankoms in Suid-Afrika gemaak. Skoonsus Yvette Pool het een gekoop. Ek het hom op die N1 buite Kaapstad so bietjie gaan brand en die GTI het my geweldig beïndruk. Dit was die eerste GTI wat met 'n turbo-aanjaer toegerus was en ook die eerste GTI wat met VW se gewilde DSG-ratkas toegerus was. Die ratkas kan jy op drie maniere ry, of vol outomaties, of in sport mode, of tiptronic, waar jy die handrat net tik om ratte te verander.
Die Golf GTI 5 is in 2003 bekendgestel - die eerste GTI met die bekende DSG-ratkas en 'n turbo-enjin.
In 2008 arriveer die vinnige Golf 6 GTI. Die 2.0 liter turbo-enjin ontwikkel 157 kW se krag. Die Golf 6 het vir my die mooiste Golf-bakwerk. Later het die Golf R gevolg met 191 kW en vierwielaandrywing.
Die pragtige Golf 6 GTI het in 2008 in Suid-Afrika aangekom - vir my een van die mooiste GTI-modelle. Foto's: Francois Germishuys
Die Golf GTI7 is hier plaaslik bekendgestel in 2012 en sy enjin ontwikkel 154 kW in standaardvorm. Die GTI R, wat so 'n paar maande later gevolg het, ontwikkel 218 kW.
VWSA het toe in 2016 die GTI Clubsport bekendgestel. Die Clubsport was so rapsie stadiger as die R, met 'n 195 kW enjin.
Gedurende 2019 het VWSA die Golf GTI 7,5 bekendgestel, maar dié opgradering was egter net kosmeties van aard.
Ek self ry 'n Golf 6 GTI, en met sy baie speelgoed, geniet ek hom baie.
In 2020 het VW die Golf VII GTI TCR bekendgestel met 'n kraglewering van 213 kW en 'n topspoed van 264 km/h.
In die Volkswagen-museum in Uitenhage staan dié pragtige 200 kW Citi Golf. VWSA wou hom 'n produksiemodel gemaak het, maar toe is die Citi Golf se produksie gestaak. Wat 'n jammerte.
Die laaste Citi Golf wat ooit gebou is, word in die VW-museum gehuisves. Almal wat op die Citi Golf-monteerlyn gewerk het, het iets op die voertuig geskryf.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'