Gallery
GEORGE NUUS - Die Wesso’s, ‘n sanggroep van Borcherds, George, het die top-20 van die Maak My Famous TV-program gehaal.
Die groep, wat bestaan uit Lee-Roy Wesso (25), Shu-shane Wesso (31) en Emannuel Wesso (29), ‘n neef en twee broers, het hul harte uit gesing en die skare se stemme gewen om deur te gaan na die volgende ronde.
“Om deur te kon gaan na die top-20 was onbeskryflik. Ons was excited en emotional op een tyd, want dit was nog altyd ons droom om deel te wees van Maak My Famous,” het Leeroy gesê.
Emannuel sê hy en Shane het elke dag na skool in gr. 1 by Pelana se ou geboue gaan sit en kitaar speel. “Dis hoe ons liefde vir musiek begin het. Soos dit gegroei het en ons ouer geword het, het ons by verskillende sanggroepe aangesluit.”
Hulle het ook pouses by Parkdene Sekondêr in die gange gestaan en sing. “Ons het agtergekom dat Lee-Roy ons dophou en doen wat ons doen. Hy het later by ons aangesluit.”
Fotogalery: Wesso’s, ‘n sanggroep van Borcherds
Die drie het toe besluit om 'n groep te begin. “Niemand in ons familie het al ooit hul drome gevolg en iets bereik nie.” Die groep sê hulle sien baie mense probeer ‘n rigting in musiek volg, maar kom nêrens. Waar dinge vir hulle begin verander het, was toe hulle begin lewe het vir die Here.
“Ons het ons lewens vir Jesus Christus gegee en hom toegelaat om ons lewens te beheer. Dinge het drasties begin verander. Ons wil ‘n inspirasie vir oud en jonkn wees.”
Die Wesso's, Shu-shane, Emannuel en Lee-Roy, op die verhoog van Maak my Famous. Die eerste episode van dié talentkompetisie het verlede Woensdagaand afgeskop.
Die Wesso’s wil graag hul families ‘n goeie lewe gee deur middel van ‘n loopbaan in musiek. Musiek het daartoe gelei dat hulle met mense soos Alton Zekay, Neville D, Veronica Meyer en Crystal Angel van America Sundays Best Winner, ‘n verhoog gedeel het. Twee vriende van hulle het sonder hul medewete hul video aan Maak My Famous gestuur. “As dit nie vir Neville Arnolds en Luwellon Olivier was nie, sou ons nie eens geweet het van die program nie.”
Dit was ‘n groot verrassing toe Emo Adams ons laat weet ons is uit 8 000 ander talentvolle deelnemers gekies om in hul top-48 te wees. “Dis amazing om ons op TV te sien. Ons kry nog elke dag boodskappe op Facebook van mense wat sê hulle is baie trots op ons en hoop ons kom baie ver.”
Dit is hul eerste groot kompetisie, behalwe vir die wen in 2016 van die Suid-Kaap Sterre. Emannuel sê hulle het altyd aan hul ouma gesê haar seuns gaan eendag op TV gesien word en nou is daardie droom ‘n werklikheid.
Tarryn Jacobs van die produksie maatskappy, sê die eerste episode van kykNET se talentkompetisie Maak My Famous, het verlede Woensdagaand afgeskop en kykers kan nie uitgepraat raak oor die eerste 12 deelnemers van die top-48 nie. Jacobs sê hulle het van dansers tot ’n komediant en operasanger op die verhoog gehad. “En ons kan jou een ding verseker, die gehoor het dit nie maklik gehad nie.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'