Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die koeriermaatskappy Time Freight, se werkers het Maandagoggend met 'n landwye staking begin om die maatskappy sover te kry om 'n beter uitbetaling te oorweeg. John Lebea, 'n werker by die George-tak asook unieverteenwoordiger, sê hulle het reg aan die begin van grendeltyd briewe gekry wat sê, "no work, no pay".
Volgens Lebea het die bestuur ook net gesê dat hul vennote nie langer in die maatskappy wil belê nie, maar daar is geen duidelikheid gegee waartoe dit kan lei nie.
Hy sê hulle het toe hul unie, National Transport Movement (NTM), om hulp genader. Volgens hom was hulle die afgelope twee maande in verskeie vergaderings waar hulle na verskillende opsies gekyk het. "Elke opsie sou daartoe lei dat ons óf ons werk gaan verloor, sal moet bedank en nie uitbetaal word nie, óf wegstap met een week se salaris wat die maatskappy aanbied."
Vir Lebea en sy medewerkers was die opsie om te bedank nie eens op die tafel nie. Baie van die werkers by die George-tak het van drie tot 15 jaar diens by die maatskappy. Die werkers het toe opdrag van hul unie gekry om Maandag te begin staak, maar teen 10:30 het hulle 'n brief ontvang waarin daar met aksie gedreig word indien hulle nie teen 11:00 ophou nie.
Lebea het hul verteenwoordigers by die nasionale kantoor gekontak, wat gesê het dit is bangmaaktaktiek, omdat hulle nie sulke briewe gekry het nie.
Kyk 'n video hieronder:
In 'n brief aan die werkers Maandagmiddag sê die maatskappy dat hulle die werkersunie gekontak het om hulle in te lig dat werkers in George hulle skuldig gemaak het aan "Unprotected Industrial Action". Dit beteken dat daar teen hulle opgetree gaan word. Verder in die brief sê die maatskappy ook dat die klousule "geen werk, geen betaling" in elk geval geld.
Lebea sê deur al die onderhandelinge wou die maatskappy blykbaar nog nie een keer na die tafel kom om te skik nie. Time Freight bied een week se salaris vir die jaar teenoor die vier weke wat die werkers vra.
Die bestuur van Time Freight is genader vir kommentaar, maar het teen laat Dinsdagmiddag nog nie gereageer nie. 'n Navraag is ook na Jean Lindsay by die menslike hulpbronne departement gestuur. Hul kommentaar sal by die aanlynweergawe van die artikel gevoeg word sodra dit ontvang word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'