GEORGE NUUS - Verskeie gemeenskapsprojekte kry aandag in die konsepbegroting van die George-munisipaliteit wat verlede week tydens 'n raadsvergadering ter tafel gelê is.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste, het na die vergadering meer besonderhede aan George Herald verskaf.
Wessels het gesê dis die grootste begroting in George se geskiedenis. Dit bestaan uit twee afdelings, die kapitaal- en bedryfsbegroting.
Volgens Wessels was dit 'n moeilike begroting om saam te stel. Infrastruktuur moet in stand gehou word en nuwe projekte moet aangepak word. As daar na die res van die land gekyk word, is daar dele waar die infrastruktuur verval en dit moet in stand gehou word. Om dit reg te kry is dit ingebou in die begroting.
Wessels het gesê groot fokus in vanjaar se begroting is op infrastruktuur wat inkomste oor die langtermyn kan genereer.
Dit is so dat tariefverhogings voorgestel word, maar dit is om die risiko in die toekoms te kan hanteer soos byvoorbeeld infrastruktuur wat in stand gehou moet word.
Projekte
Van die projekte is daarop gerig om mense se lewens in gemeenskappe te verbeter. Een daarvan is in Pacaltsdorp waar 'n perseel vir kleinsake ontwikkeling gevestig gaan word. Dit is langs die toerismekantoor en R1,3 miljoen is daarvoor bewillig.
Die York Hostel in die stadskern gaan ook opgradeer word en munisipale kantore sal daar gevestig word, wat sal help met dienslewering. In die 22/23 boekjaar is R2,5 miljoen bewillig en in die 23/24 boekjaar ook R2,5 miljoen.
Altesaam R1,9 miljoen is bewillig vir crèches en R820 000 vir die opgradering van die biblioteek in Touwsranten.
Netbalbane by Outeniquapark gaan teen R800 000 opgegradeer word en dit kan selfs aangewend word as 'n internasionale span, George as sy tuisbasis gebruik tydens die Wêreldbeker-netbaltoernooi in 2023.
Die Rosemoor binnenshuise sportarena gaan ook aandag kry en R540 000 is daarvoor bewillig. Toilette by strande kry aandag en R150 000 is daarvoor bewillig.
Uniondale, wat deel is van die George munisipale gebied, se begraafplaas gaan opgegradeer word teen R500 000.
By Gwaiing sal die dagkampeerarea opgegradeer word teen R300 000. 'n Verdere R400 000 is bewillig vir die opgradering vir die karavaanpark.
Altesaam R3,7 miljoen is bewillig vir die bou van 'n komposaanleg waarheen inwoners hul tuinafval sal kan neem. Die Rooidraaipad by Heroldsbaai, wat op die oomblik uit plaveisel bestaan, gaan opgradeer word teen R18 miljoen.
Wessels het gesê groot klem word ook in hierdie begroting gelê op die veiligheid van alle inwoners. Op die begroting verskyn kameras, vesellyne, voertuie en toerusting vir die departement van veiligheidsdienste.
"Die dryf na 'n slim stad konsep kom ook sterk na vore, met tegnologiese 'smart' watermeters wat die kliënte en die munisipaliteit sal help met meterlesings in die toekoms.
"Hierdie meters stuur self die korrekte lesing na die betrokke departement via kommunikasie kanale en verseker sodoende dat kliënte nie vir geskatte verbruik van water gefaktureer word nie."
Ook met Eskom se probleme wat voort-duur bevat die begroting R150 000 000 oor drie jaar vir die oprigting van 'n 100mW sonkragkragstasie.
Gastehuise en pensionarisse
Volgens hom is daar ook goeie nuus vir gastehuise en pensionarisse.
Die veel besproke toiletbelasting word verwyder uit die tariefboekie en pensioenarisse kan nou 'n inkomste verdien tot R23 000 om sodoende afslag te kry op die eerste R1 miljoen van hul eiendom se waarde vir eiendomsbelasting.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'