GEORGE NUUS - Toe Ben Rheeder van Blanco Saterdag 21 Augustus in sy groentetuin spit om patats uit te haal, het hy nooit kom droom wat onder die grond wegkruip nie.
Uiteindelik na 'n behoorlike gewerskaf, het hy daarin geslaag om die bielie van 'n patat wat 2,95 kg weeg uit die grond te kry. Dit is sowat 25 cm lank en byna so groot soos 'n koffieblik.
Rheeder is baie lief vir tuinmaak en plant graag groente. Hy het al die afgelope 40 jaar verskeie kere patatranke geplant en nege maande gelede het hy weer 'n paar ranke geplant.
Hy het soos gewoonlik net water gegee en niks spesiaal in die grond bygewerk nie. By dieselfde ranke het hy al kleiner patats uitgehaal, maar was baie verbaas en verras toe hy dié groot patat sien.
"Toe ek die spesifieke een uithaal, het ek gesien hier is 'n grote. Ek het my hande en die tuinvurk gebruik en besef hier is iets massief."
Dis die grootste patat in al die jare wat hy patats kweek. Rheeder is nog nie 100% seker wat hy met die patat gaan doen nie. "Ons sal dit seker bewerk en vries."
Ben Rheeder met die bielie van 'n patat langs 'n koffieblik.
Foto: Eugene Gunning
Blanco resident Ben Rheeder dug up a 2,9kg sweet potato in his vegetable garden last weekend. It is the first time in his 40 years of gardening that his garden produces such a huge sweet potato.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'