GEORGE NUUS - ’n Klein groep vrywilligers het tydens die gure weer wat die afgelope drie dae oor die gebied geheers het, ingespring om inwoners van verskeie dele van George met sandsakke by te staan.
Lede van die groep het sandsakke by die brandweer volgemaak, terwyl ander in die gietende reën van huis tot huis gegaan het om vas te stel wie hulp nodig het.
“Ek wil net so bietjie perspektief gee van wat alles gister gebeur het,” het Timothy Luff gesê.
“Met die vyf bakkies wat gery het, kon ons by sowat 130 huise uitkom. Een huis was in George, vier in Glentana en die res in areas buite George-sentraal, soos Rosemoor, Pacaltsdorp en Borcherds.”
Luff het ook sy dank uitgespreek teenoor Ford George en Toyota George wat onmiddellik twee bakkies beskikbaar gestel het om die noodlenigingspogings te ondersteun.
’n WhatsApp-groep met die naam “Benodig hulp met vloed” is intussen gestig waar inwoners hulp kon vra.
Teen Donderdag 7 Mei het die groep reeds sowat 300 lede gehad, met versoeke vir sandsakke en bouplastiek wat voortdurend ingestroom het.
Luff en sy span het probeer om by soveel huise as moontlik uit te kom. Inwoners van onder meer Pacaltsdorp, Conville, Rosemoor, Lawaaikamp, Rosedale, Borcherds, Blanco, New Dawn Park en Parkdene is onder meer bygestaan soos wat die groep vrywilligers kon.
Vrywilligers het sandsakke in die gietende reën afgelewer.
Nuwe motorhandelaar, Ty Meiring (links), Timothy Luff en Dylan Jones Automark-bestuurder by Toyota.
Carl Grobler (links) Motus Ford George se handelaarshoof, saam met vrywilliger Anthony Luff.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’