GEORGE NUUS - 'n Geliefde inwoner van die Waboomskraal-omgewing is Sondag 15 Oktober oorlede weens hoofbeserings wat sy in 'n motorongeluk vroeër die naweek opgedoen het.
Die ongeluk het Vrydagmiddag 13 Oktober op die N9 naby die Agri-koöperasie op Herold plaasgevind toe Anne-marie Barnard (65) na bewering regs na die koöperasie wou afdraai en 'n Volkswagen Jetta haar Chevrolet-bakkie aan die regterkant tref.
Albei voertuie was in die rigting van Uniondale onderweg.
Sy is per noodhelikopter na die Mediclinic George geneem en daarna by die Life Bay View-hospitaal op Mosselbaai opgeneem waar sy aan haar beserings beswyk het.
Haar passasier, Katrina Roman (63), het ligte beserings opgedoen en is op die toneel behandel.
Die drie insittendes in die Jetta, almal lede van korrektiewe dienste op Uniondale, is ook lig beseer. 'n Klag van strafbare manslag word ondersoek. Barnard laat haar drie kinders, Stephan Barnard, Lanie Barnard, Gené-marie Oosthuizen en haar man, Fanie, agter.
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'