GEORGE NUUS - Die provinsiale departement van gesondheid het in reaksie op 'n klagte oor Covid-19-toetsing by die Conville-kliniek bevestig dat daar druk op hul toetskapasiteit is. Mense kan nie altyd almal op die dag getoets word waarop hulle by die kliniek aanmeld nie.
"Waar kapasiteit vir die dag bereik word, word pasiënte gevra om die volgende dag terug te kom," het die departement gesê.
Dit het gebeur met 'n vrou (51) wat op Woensdag 11 November by die Conville-kliniek aangemeld het vir 'n Covid-19-toets nadat sy die vorige dag sleg begin voel het.
Volgens haar werkgewer, wie se kinders sy oppas, het die kontakopsporingsdiens haar (die werkgewer) eers ses dae ná haar huishulp se positiewe uitslag, gebel om te verneem of sy en haar gesin enige simptome toon.
Sy is nie deur die beller gevra om te selfisoleer nie.
"Ons het dadelik op die Dinsdag begin isoleer toe my huishulp gesê het sy voel sleg, nog voor sy kliniek toe is. Ek werk self met pasiënte en ons maatskappy is uiters streng. Die kliniek het my huishulp nie ingelig oor isolasie nie en haar twee keer onverrigter sake huis toe gestuur.
"Die kliniek het met haar eerste besoek op die Woensdag gesê sy moet die volgende dag terugkom want hulle is te vol. Donderdag toe sy weer opdaag, moes sy hoor dat sy 'n afspraak moes gemaak het.
"Sy het toe 'n afspraak vir die Vrydag gemaak en is uiteindelik positief getoets. Wat van al die mense met wie sy in aanraking was in die tydperk voor sy getoets is?"
Volgens die huishulp woon sy en haar man saam in 'n huis. Hulle het hulself geïsoleer nadat die uitslag bekend was. Hy het ook positief getoets. Hul kinders wat op dieselfde erf in 'n aparte eenheid woon, het glad nie geïsoleer nie, maar aanhou werk toe gaan.
Die huishulp se werkgewer sê in die lig van die huidige tempo van verspreiding van die virus, "is sulke operasionele oneffektiwiteit onaanvaarbaar".
Die gesondheidsdepartement het verskoning aangebied vir die "negatiewe ervaring" van die pasiënt en gesê weens druk op kapasiteit, kan net 'n sekere aantal toetse per dag gedoen word.
"Ons word genoodsaak om die siekste en kwesbaarste pasiënte te prioritiseer vir toetsing. Ons kontakopsporingspanne is ook onder geweldige druk om almal te kontak wat positief getoets het, asook hul naby-kontakte.
"Ons is wel besig om aandag aan hierdie uitdagings te gee om meer toetskapasiteit te bewerkstellig asook om meer kontakopsporingspersoneel te werf."
* Die huishulp en haar werkgewer wou anoniem bly.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'