GEORGE NUUS - Inwoners wat op Hoërskool Heatherlands se skoolterrein woon is bekommerd oor hul veiligheid, aangesien die koshuis wat geïdentifiseer is om as veldhospitaal te dien indien George 'n Covid-19-krisis beleef, naby hul wooneenhede geleë is.
Volgens die waarnemende distriksdirekteur van die Wes-Kaapse departement van onderwys, Jewel Jonkers, is hul vrese onnodig.
Die drama volg nadat die hoof van Garden Route-rampbestuur, Gerhard Otto, verlede week bekendgemaak het dat 'n koshuis van Hoërskool Heatherlands geïdentifiseer en goedgekeur is om as 'n veldhospitaal te dien, indien nodig.
Die koshuis huisves nie leerders tydens die skoolkwartale nie. Jonkers het gesê die besluit om die koshuis in 'n veldhospitaal te omskep word as 'n laaste uitweg beskou.
"Indien dit gebruik word, sal streng mediese voorsorgmaatreëls toegepas word. Daar sal ook voor die finale goedkeuring eers met hulle gesels word om al hul vrese te ondersoek. Hul eie, en hul kinders se veiligheid, is vir ons belangrik en sal beskerm word," het Jonkers gesê.
Hoërskool Heatherlands is naby George-hospitaal geleë.
Goedkeuring
Volgens Jonkers is die goedkeuring van die Wes-Kaapse hoof van onderwys, Brian Schreuder, nog nie finaal nie. "Die voorstel is wel in beginsel deur Schreuder goedgekeur, sowel as die waarnemende hoof van Hoërskool Heatherlands, René Haupt, en die voorsitter van die skool se beheerraad, Rosina Booysen," het hy gesê.
Volgens 'n inwoner, Marlene Jonkerman, is die inwoners van Hoërskool Heatherlands nie hieroor geraadpleeg of ingelig nie, en is hulle baie bekommerd omdat hulle so na aan die koshuis woon.
Jonkerman het gesê baie van die inwoners, waaronder haar eie seun, ly aan bors- en ander gesondheidskwale.
Tydens George Herald se besoek aan die skool verlede Saterdag het Booysen ontken dat sy enige toestemming verleen het. Booysen, wat self op die skoolterrein woon, het gesê 'n ter plaatse besoek van verteen-woordigers van die departement van gesondheid, gelei deur Haupt, het haar onkant gevang.
"Ek is gevra om hulle te vergesel, ek het nie geweet waaroor dit gaan nie," het sy gesê. Jonkers het egter bevestig dat hy wel in besit is van 'n dokument wat deur Booysen onderteken is, waarin sy namens die skool se beheerliggaam goedkeuring verleen.
Die skoolterrein van Hoërskool Heatherlands, met twee van die skool se vier koshuise (links) in die agtergrond.
Twee koshuise (links en regs) op dieskoolterrein van Hoërskool Heatherlands wat tans geen leerders huisves nie. Die koshuis regs is geïdentifiseer as 'n ideale opsie vir 'n veldhospitaal vir Covid-19 pasiënte.
Ideale keuse
Volgens Jonkers is hierdie koshuis ideaal, aangesien geen kinders daar gehuisves word nie. "Ons weet nie wanneer die skole weer begin nie. Dit maak sin om 'n koshuis te gebruik wat normaalweg geen kinders huisves nie."
Op 'n vraag hoekom ander koshuise van Hoërskool Pacaltsdorp en Carpe Diem nie vir die doel gebruik kan word nie, het Jonkers gesê die koshuise huisves wel leerders wat dalk later blootgestel kan word.
"Die koshuis by Hoërskool Heatherlands is ook naby die George-hospitaal geleë indien hulp benodig word," het hy gesê.
Volgens Jonkers sal hierdie opsie slegs gebruik word indien dinge "heeltemal buite beheer raak". Hy het gesê George is tans ver daarvan af.
"Dit is Opsie D," het Jonkers gesê. Hy het gesê toestemming is verleen met die voorwaarde dat die koshuis afgebaken word en dat daar geen ander toegang vir mense tot die koshuis is nie.
Inwoners van Hoërskool Heatherlands praat oor hul vrese. Die koshuis wat geïdentifiseer is as 'n veldhospitaal vir Covid-19 pasiënte indien nodig, is agter hulle en van die wooneenhede is regs (op die foto). Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'