GEORGE NUUS - Die konsepbegroting vir die 2021/22 finansiële jaar is verlede week ter tafel gelê en het die nuwe tariewe vir elektrisiteit ingesluit. Ek verduidelik hieronder hoe hierdie tariewe bepaal word.
Nersa (National Energy Regulator of South Africa) bepaal die verhoging van elektrisiteitspryse wat Eskom aan verbruikers mag deurgee. Die prys waarteen elektrisiteit aan munisipaliteite verkoop word styg met 17,8%.
'n Formule word deur Nersa gebruik om die prysstyging wat munisipaliteite aan verbruikers kan deurgee, te bepaal. Bedrae vir onderhoud, salarisse en die netto toelaatbare marges op elektrisiteit word in hierdie jaar se verkoopsprysstyging van 14,59% ingereken.
Eskom verskaf dus elektrisiteit aan munisipaliteite teen die grootmaat-prys. Munisipaliteite is dan verantwoordelik om hul eie verspreidingsnetwerk en substasies in stand te hou om hulle huishoudelike- en besigheidsverbruikers van krag te verskaf.
Die kostes om elektrisiteit te versprei sluit onder andere die volgende in: onderhoud op kraglyne, transformators, substasies, onderhoudspanne, waardevermindering op toerusting, asook die interne gebruik van krag (vir pompstasies, straatligte, geboue) en behels ongeveer 30% van die totale aankope.
Daar is verskillende tariewe waarteen Eskom krag aan munisipaliteite verkoop afhangende van 'piek' of 'nie-piek' tye vir 'winter' en 'somer'. Die totale bedrag vir aankope vir die jaar is dus die kilowatt-ure teen die verskillende tariewe.
Die munisipaliteite moet gevolglik daagliks statistiek hou van hulle aankope en verkope teenoor die verskillende tariewe en wie die verbruikers is.
Om die verkoopspryse te bepaal moet elke munisipaliteit die verbruikerspatroon ontleed. Nywerhede word teen 'time of use' tariewe gehef; 'piek'-tariewe is dus baie duurder as ander tye. Die tarief vir verkope aan huishoudings word teen 'n gemiddelde prys vir die jaar bepaal wat laer is as die hoë 'winter-piek' pryse (maw die munisipaliteite verkoop teen 'n verlies) maar wat ook die laer 'somer'- en 'nie-piek' tye in ag neem.
Ons munisipaliteit gebruik tans (2020/21) nog 'n eenmalige tarief van 206,4 sent per kilowatt-uur sonder BTW (237,3 sent BTW ingesluit) vir alle verkope aan huishoudelike verbruikers (deernisgevalle betaal minder vir 'n getal eenhede).
Sommige van ons naburige munisipaliteite het alreeds 'n basiese beskikbaarheidsheffing begin toepas waar huishoudings 'n bedrag van byvoorbeeld R50 (of R100) per maand betaal voordat hulle kilowatt-uur eenhede aankoop.
Die aanvanklike blok eenhede wat aangekoop word sal dan goedkoper wees as die eenmalige tarief wat George hef, maar daarna styg die tarief soos addisionele blokke aangekoop word. Hierdie stelsel word ook die "inclining block tariff" stelsel genoem. George moet nog die besluit neem of die laasgenoemde stelsel in die toekoms ingestel gaan word.
Die verkope van elektrisiteit vir 2021/22 word op R875m beraam (teenoor aankope van R616m) wat 54% van George se inkomste uit kerndienste en belasting verteenwoordig. Hierdie inkomstebron is dus uiters belangrik vir ons hele samelewing.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'