GEORGE NUUS - Conville-buurtwag pleit die gemeenskap om saam met hulle te werk om misdaad in dié gebied te bekamp. Dit volg ná 'n 19-jarige seun op Dinsdag, 1 Maart, in Maraiskamp doodgesteek is.
"Ons gemeenskap moet saam staan teen geweldmisdaad. Ons kan nie terugstaan en kyk hoe ons jong seuns mekaar uitmoor nie. Ons kan nie kyk hoe geweld en misdaad ons gemeenskap oorneem nie. Genoeg is genoeg. Almal in ons woonbuurte moet saamstaan en by die buurtwagte aansluit. Saam kan ons meer vermag," sê Conville-buurtwag se voorsitter, Rudy Lewis.
Luciano Smit is in Kabeljoustraat aangeval en met 'n mes doodgesteek. Met die polisie se aankoms het hulle sy lyk in die straat gevind. Hy het 'n steekwond aan sy lies opgedoen en is deur paramedici op die toneel doodverklaar. Die motief van die moord is nog onbekend en polisie kon nie bevestig of dit 'n bendeverwante-voorval was nie.
"Ek was nie daar die dag toe dit gebeur het nie, maar die manier waarop hy gesterf het, was wreed. My hart is stukkend. Hy het dit nie verdien nie. Hy was almal se kind. Sy ma is oorlede en hy is in 2019 in my sorg geplaas. Hy was ons almal se kind en die familie is in rou gedompel. Ek hoop en glo geregtigheid sal geskied," sê sy tannie, Mariana Meyer.
Twee verdagtes (31 en 34) is later in verband met die moord aangekeer. Besonderhede rondom hulle hofverskyning kon teen druktyd nog nie deur die polisie bevestig word nie.
"Dit is juis om sulke voorvalle te verhoed dat ons die gemeenskap nodig het om met ons hande te vat en misdaad in die omgewing te bekamp," sê Lewis.
Lewis en 'n span van ander buurtwaglede, lede van die gemeenskapspolisiëringsforum en sekerheidsbeamptes, patrolleer elke naweek Conville se strate, maar Lewis meen hulle het beslis die gemeenskap se hulp ook nodig.
Belangstellendes kan Lewis by 061 977 6098 kontak.
In short
Two men (31 and 34-years-old) were arrested after the Luciano Smit (19) on 1 March in Kabeljou Street in Maraiskamp, Conville. Details about their court appearance could not be confirmed by time of going to print. Smit was declared dead by paramedics on scene. On their arrival, police found Smit's body lying in the road. He had a stab wound to his groin. The motive behind the killing is not clear at this stage.