Gallery
GEORGE NUUS - In weerwil van koue nagte het die Eden Trekkers-buitelugklub in Schoemanshoek laer getrek en die sonnige dae met uitstappies geniet. Nege gesinne van die klub het by Oppi Dam-oord saamgetrek en besluit om ook die pragtige omgewing te verken.
In ware Trekkers-tradisie het die groep die Saterdagprogram met 'n ontbyt by Wilgewandel in Oudtshoorn afgeskop en op kamele gery, waarna 'n uittog na die kruin van die Swartbergpas gevolg het. Die groep het die uitsigte vanaf die bergreeks geniet en vir 'n wyle op die kruin uitgespan.
Toerleier Herman Neethling het onder andere die ou perderoete aan die groep uitgewys. Op pad terug het die Trekkers by Kobus se Gat aan die voet van die Swartberg aangedoen om ietsie te nuttig terwyl Kobus hulle met 'n paar grappe vergas het.
Terug by die kampplek moes die vroue moue oprol en met hul nageregte in swartpotte begin. Al die nageregte was uitstekend en die beoordelaars het 'n moeilike taak gehad om die wenner aan te wys.
Die klub het meer as R1 000 ingesamel met die uitdeel van stoute boetes aan die einde van die kampnaweek asook 'n naweek by Tergniet wat deur Loerie Trailer Hire geborg is.
Die Trekkers se volgende uittog is die laaste naweek van Augustus na Michael le Roux se Eagle Falls in die Langkloof.
ARTIKEL: JANNIE MEYER, GEORGE HERALD KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'