GEORGE NUUS - Die departement van korrektiewe dienste (DKD) in die Suid-Kaap het 'n nuwe areakommissaris verwelkom.
Rika Botes, die voormalige sentrumhoof in Kimberley, is gekies om die waarnemende areakommissaris, Johan Vermaak, se skoene in George vol te staan.
Botes is tydens 'n virtuele vergadering deur Kenneth Mthombeni, waarnemende streekkommissaris van die Wes-Kaapse DKD, bekendgestel.
Haar aanstelling het op 1 November begin.
Botes het baie jare se ervaring en haar toetrede tot die area word met groot opgewondenheid verwelkom.
Met haar aanstelling staan die aantal vroulike gebiedskommissarisse in die Wes-Kaap nou op vyf.
Mthombeni het ook van die geleentheid gebruik gemaak om Vermaak, wat die afgelope twee jaar as waarnemende areakommissaris gedien het, te bedank vir sy harde werk en toewyding.
Vermaak het Botes gelukgewens en haar verwelkom in die span. "Ek sien daarna uit om saam met haar te werk aan die voortgesette sukses van die Suid-Kaap," het hy gesê.
Botes is nie 'n vreemdeling in die provinsie nie. Sy het in 2006 'n kort tydperk in die Wes-Kaap deurgebring en sien uit om weer in die provinsie te werk en haar ervaring ten goede te gebruik.
"My visie vir die Suid-Kaap is om voort te bou op die fondasie wat gestel is en die reeds bestaande vennootskappe te verbeter en verder te vestig," het Botes gesê.
Met byna 36 jaar diens agter haar naam, sê Botes sy sal geen ander beroep kies nie. "Ek het as 'n baie jong amptenaar begin werk in 'n korrektiewe sentrum en het die voordeel gehad om binne verskeie eenhede binne DKD te werk.
"Ek het 'n begrip van die verskillende elemente wat amptenare en gevangenes in die gesig staar en ook die daaglikse bestuur van die Departement. Om te verseker dat ons ons mandaat kan lewer, moet ons arbeidsmag goed versorg wees."
Buite werk geniet Botes dit om haar met enigiets kreatief besig te hou. Van kombuisontwerp tot naald- en hekelwerk. "Ek het 'n passie vir opleiding en oordrag van vaardighede en lees."
Mtombeni het in dieselfde vergadering aangekondig dat Geraldine Pienaar as waarnemende adjunk-areakommissaris oorneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’