GEORGE NUUS - Die eienaar van Steers in die George-middedorp, Natasha van Schalkwyk, waarsku ander besigheidseienaars en inwoners teen ‘n nuwe selfoonlugtyd-slenter ná een van hul kollegas byna met ‘n slap riem gevang is.
Die beweerde swendelaar, wat homself slegs as Jaco voorgestel het, het Dinsdag 7 Mei, ‘n telefoniese bestelling vir burgers ter waarde van byna R1 240 geplaas voor hy probeer het om ‘n operateur by die inbelsentrum om die bos te lei.
In die klankopname van die oproep kan jy hoor hoe die man, ná sy bestelling vir 10 burgers geplaas is, probeer om die operateur om te koop om vir hom ‘n sekere hoeveelheid Vodacom-lugtyd te koop.
Hy sê hy sal die persoon wat die lugtyd koop by die toonbank terugbetaal wanneer hy sy bestelling optel.
Die inbelsentrum is egter in Oudtshoorn geleë so die operateur kon hom nie help met sy versoek om lugtyd nie.
“Hoewel hy dit nie kon regkry om lugtyd te kry nie, het hy R1 239 se kos oor die telefoon bestel. Hy was nie bewus dat die dame met wie hy oor die foon gepraat het in 'n inbelsentrum in Oudtshoorn is nie en sy het ongelukkig ook nie besef dat hy besig was om haar te probeer indoen nie,” sê Van Schalkwyk.
Steers se bestuur het onraad vermoed toe ‘Jaco’ teen 17:00 nog nie sy bestelling gaan haal het nie.
“Dit is skokkend hoe vriendelik en onskuldig die man oor die foon voorkom. Ons wil graag die ander besigheidseienaars en inwoners van George waarsku teen die man,” sê Van Schalkwyk.
Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'