GEORGE NUUS - Die ma van 'n 11-jarige seun met diabetes bied op 14 November, Nasionale Diabetesdag, 'n Stap vir Diabetes aan om geld in te samel om 'n ander jong diabeet te help.
Hester Stander, wie se seun Hanro in 2018 met diabetes gediagnoseer is, sê sy wil bewusmaking skep deur middel van die staptog, maar die doel is ook om kinders met diabetes te help.
"Dit is vir my ook 'n manier om iets terug te gee aan dr. Jacques van Staden van die Diabetiese Sentrum vir Uitnemendheid in George vir alles wat hy al vir Hanro beteken het."
Daar is drie maniere om aan die 10 km-stap deel te neem: Strandlangs van Leentjiesklip, Wilderness af, of vir mense van die Mosselbaai-omgewing, van Piza e Vino op Hartenbos af, asook virtueel, wat beteken jy skryf aanlyn in en onderneem op die dag jou 10 km-staptog van waar jy ook al wil. Die staptogte begin om 08:00.
Deelnemers word gevra om iets blou aan te trek. Skakel Stander by 071 147 2648 vir meer inligting.
"Die geld wat ingesamel word, sal aangewend word om Free Style Libre Sensors aan 'n 13-jarige seun te kan verskaf. Hy was 17 maande oud toe hy gediagnoseer is. Die kostes is hoog, maar al kan ons hom net van 'n maand se sensors voorsien, sal dit wonderlik wees.
"Die sensors verskaf 24 uur lesings van jou bloedsuikervlakke en help jou om beter beheer daaroor uit te oefen. Die seun se ma is 'n enkelouer en kan dit nie bekostig nie," sê Stander.
Hoë eise
Sy het die afgelope twee jaar ondervind dat lewe met tipe 1-diabetes hoë eise stel. Die regte dieet en so akkuraat moontlike insulientoediening vorm die basis van 'n lyer se strategie. Maar dis hipermoeilik.
"Ons moet vooraf beplan wat Hanro vir die dag gaan doen, gaan hy op die rusbank lê - dan moet hy meer insulien spuit - of gaan hy aktief wees - dan moet hy minder spuit. Dan is daar nog die faktor van wat hy gaan eet.
Stander sê sy het al geweldig baie geleer oor die uitwerking wat verskillende kosse op haar seun se bloedsuikervlakke het. Hy eet 'n laekoolhidraat-dieet en sy bepaal sorgvuldig hoeveel gram koolhidrate hy per ete inneem.
Altyd waaksaam
Sy moet altyd waaksaam wees. Hulle slaap nooit 'n nag dwarsdeur nie, want Hanro se suikervlakke kan gevaarlik val terwyl hy slaap, so dit moet gemonitor word.
Hy is gediagnoseer nadat hy in die intensiewesorgeenheid beland het weens diabetiese ketoasidose, 'n toestand waar die bloedsuiker gevaarlik styg en die persoon in 'n koma kan gaan.
"Ons het Hanro net betyds by die hospitaal gehad. Hy was die vorige dag by 'n dokter, maar sy toestand het daarna net vererger. Ons het nie die simptome geken nie."
Die simptome is uitermatige dorsheid en urinering, naarheid en braking, krampe, maagpyn, swakheid en moegheid.
"Ek kon my kind daardie dag verloor het as ons nie gou gespeel het nie. Elke dag word kinders gediagnoseer, daarom is dit van uiterste belang dat mense kennis dra van die simptome. In die twee jaar sedert Hanro se diagnose weet ek van twee kinders wat oorlede is weens ketoasidose omdat mense nie die simptome geken het nie en te laat was vir hulp."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'