Die weglêsnor wat hom 'n legende gemaak het, het ook uiteindelik tot sy vervroegde uittrede uit die polisiemag aanleiding gegee.
As jongman het hy 33 jaar voor sy uittrede reeds met 'n klein snorretjie gespog. Toe die snor later tot 'n weglêsnor ontwikkel, het hy homself voorgeneem dat niemand aan hierdie snor vat nie.
Die einste snor en sy onverskrokkenheid het vrees by al wat misdadiger is ingeboesem. Die moeilikheid wat sy bloeddruk tot kookpunt opgestoot het, was toe 'n jong offisier in 1976 in George aanland en die sersant gelas om sy snor af te skeer. Toe hy weier, moes hy vir 'n foto poseer wat die offisier in sy verslag wou gebruik.
Na die fotonemery het sers. Black, soos hy ook alombekend was onder kollegas, sy kosblik gevat, reguit na die distriksgeneesheer gery en aangekondig dat dit sy laaste dag in die polisie is.
Sy rug het hom vir baie lank opgekeil en hy het maar vasgebyt omdat hy versot op sy werk was, maar as sy snor aanstoot gee is hy ook nie meer bereid om met 'n seer rug vas te byt nie.
Na die ondersoek en distriksgeneesheer se verslag is hy op siekteverlof geplaas en het later op mediese gronde uitgetree.
Sers. Black, wat bekend was as 'n kleurryke storieverteller en veral baie staaltjies as polisieman kon opdis, het in Hillbrow, Rivonia, Oudtshoorn en George diens gedoen. Hy was die eer-ste polisielid in George wat in beheer was van 'n opgeleide polisiehond.
Wat hom egter dwars in die krop gesteek het, is toe vroulike polisielede op gelyke voet met die mans aangestel is.
"Man, hoe kan 'n vrou wat haar handsak en hoedjie moet vashou 'n geharde misdadiger aantree? Hulle hoort in die kantore en nie op die vangwaens nie," was sy reaksie op hierdie nuutjie in die mag.
Hy kon ook met smaak vertel hoe hy by geleentheid staatspresident Blackie Swart en sy eg-genote in 'n outomatiese leen-voertuig moes vervoer.
"Ek was nie gewoond aan die kar sonder 'n clutch nie. Toe ons in Davidsonweg af ry, trap ek per ongeluk die briek. Die slag laat mev. Swart se kop vorentoe ruk en byna val haar spoggerige hoed op haar skoot. Ek kyk toe in die truspieël en sê dat die kar se brieke soms vasslaan en dat ek nie veel daaraan kan doen nie. Die res van die rit hou sy toe haar hand op die peperduur hoed."
Hy was een aand op pad na moeilikheid in Wildernis toe hy 'n dronk bestuurder by Dolphins Point kry wie se motor byna teen die afdraand afgeskuif het.
"Die ou vra my toe om hom uit te sleep, maar ek sien sommer hy kan nie verder ry nie.Ek gee hom net so 'n stootjie dat hy oor die rand van die pad val en ry eers om die probleme in Wildernis uit te sorteer. Toe ek terugkom, stop ek by die motor en sien hoe die ou teen die wal uit spook. Bo gekom was sy hemp grasgroen van die ghoenas en hy houtnugter gespook om teen die gladde wal uit te beur. Die ghoenas het hom tot byna by die spoorlyn laat gly.
"Ek sleep sy voertuig toe uit en daar ry die ou nugter verder. Wat hy vir sy vrou vertel het, was sy eie probleem."
Sers. Black het 14 jaar gelede begin siek word. Hy was van die staanspoor af bevrees dat hy eendag in 'n inrigting sou beland, maar sy eggenote, Lizzie (88), het hom belowe dat sy hom tot die einde tuis sal verpleeg.
"Dit was soms maar moeilik, want hy kon baie hardkoppig raak. Tog het ek geduldig gebly en is vandag verheug dat hy tot sy dood by sy huis kon bly waar hy die gelukkigste was," het sy vertel terwyl die trane vryelik vloei.
Behalwe sy eggenote laat hy ook drie kinders, Deon, Elsabe en Ben asook vier kleinkinders agter.
'n Troosdiens word op 6 Mei om 10:00 in die NG Kerk Denneoord gehou.
As jong polisieman in Johannesburg het hy ook misdadigers op 'n sy-span-motorfiets gejag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'