GEORGE NUUS - Die George-landbouskou groei elke jaar van krag tot krag en 2018 gaan geen uitsondering wees nie.
Skoukoördineerder Susan Willemse, het Woensdagaand 31 Januarie by die bekendstelling van vanjaar se skou gesê 2017 was die suksesvolste ooit in die 157 jaar van die Outeniqua-skougenootskap, ten spyte van 'n aantal terugslae.
In 'n inbraak twee weke voor die skou is groot skade gely.
Die pluimveeskou is afgeskaf weens voëlgriep, die droogte het veroorsaak dat minder landbouvertoners as verwag opgedaag het, en 'n beloofde borgskap van die departement van sport en kultuur het nie gerealiseer nie.
Dit het die genootskap egter nie van stryk gebring nie. Ongeveer 18 000 mense is in 2017 deur die hekke.
Willemse het gesê die borge se rol en bydrae is dié bestanddeel in die wenresep van die skou.
"Elke jaar is daar meer betrokkenheid van die plaaslike inwoners asook belangstellendes van ver, en wanneer ons meer spasie nodig het, verwyder ons grensdrade en ploeg nog grond oop, met nuwe of ou trekkers.
Skoupresident Gert Pretorius (links) en die skoukoördineerder, Susan Pretorius saam met twee lede van die Suid-Kaap veteraantrekker- en implementeklub, André Barnard (agter) en Ernst Langenhoven (voorsitter). Gaste by die skou se bekendstelling is met 'n uitstalling van 'n veteraantrekkers verwelkom.
"Vanjaar sal die program weer verder uitgebrei word met 'n paar nuwe toevoegings, waaronder die nasionale Jersey-kampioenskappe, 'n nagwedloop, 'n treksaagkompetisie en 'n huisvlytafdeling. Die tema is Vintage/Antiek, oftewel in lekker Afrikaans, 'Uit die oudedoos'.
Dit vind plaas van 29 Augustus tot 1 September.
Die Wes-Kaapse en nasionale jeugskou-kampioenskappe word later vanjaar op die skouterrein gehou.
Dennis Schley (middel), visepresident van die Outeniqua-skougenootskap, met van die gaste by die bekendstelling, van links: Eljo van der Walt (Rauch Gertenbach) en haar man Willem (Blanco Laerskool) en Stuart Landman (C&B Construction) en sy vrou, Maryke (Rauch Gertenbach Prokureurs).
Met die Suid-Kaap veteraantrekker en -implementeklub wat deesdae nou by die skou betrokke is, het die moontlikheid ontstaan dat die nasionale veteraantrekker-kampioenskappe in 2020 moontlik hier sal plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'