GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste kuier op 8 April om 09:00 by Sjef Emile Nel by die Bahia Blue Restaurant, Diaz Hotel en ontdek wat dit behels om vandag ’n sjef te wees.
Volgens Nel verg die hedendaagse bedryf nuwe en uitdagende denke van enige sjef. Voorkeure en gesondheidsneigings soos veganisme en dieetbeperkings, byvoorbeeld gluten-intoleransie, moet in gedagte gehou word wanneer hulle ‘n spyskaart beplan.
Hy maak die deurtjie in sy kop op 'n skrefie oop en die gilde word genooi om saam met hom op 'n opwindende nuwe dink- en kookpad te stap as hy die volgende geregte demonstreer: vegan meringue, vegan brownies, vegan mayonnaise, eierlose tempura, pampoen tot sy maksimum, botterskorsie- en kekerertjie-kerrie (veganisties) asook soja- en lemoen-tempurakool.
Hierdie geregte sal gepaar word met bypassende wyne om die beste uit die geregte te kry.
Dit gaan ‘n besondere leerervaring by een van die omgewing se mees begaafde sjefs wees. Gaste en voornemende nuwe lede is hartlik welkom.
Indien jy belangstel om dit by te woon, kontak Santie van Vuuren by 082 461 0777 om ‘n plek te bespreek teen R170 ‘n kaartjie. Beperkte sitplekke is beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'