GEORGE NUUS - Wanneer lede van die Serfontein-gesin hul bloedrooi vierwiel-trapfiets inspan vir 'n uitstappie deur die strate van George-Suid, draai die koppe, blaas die toeters en waai verbygangers.
Die ietwat ongewone vervoermiddel, met 'Serfies 1 WP' op die nommer-plaat, lyk soos 'n kombinasie tussen 'n fiets en motorkar.
Dit het fietswiele en twee pare pedale sodat twee persone saam kan trap, 'n linkerhandstuurwiel en gestoffeerde sitplek waarop drie volwassenes gemaklik inpas. Spoggerige modderskerms is met blinkgepoetste aluminium bedek.
Die eienaar, Barry Serfontein, sê hy het bietjie gegoogle voordat hy sy ontwerp op papier vir iemand gegee het om die bouwerk te doen.
"Toe ek klein was het ek eenkeer op so 'n fiets gery by De Bakke in Mosselbaai en ek wou nog altyd een laat maak het. Ons ry die wêreld plat met hom. Ek wil later dalk vir hom 'n enjintjie opsit. Hy's nie vinnig nie. Ek sou nie sê jy sal moet hardloop om by te hou nie, maar dit hang seker af van hoe angstig die twee manne is wat hom trap."
As jy wil rem, trap jy net die pedale terug.
Sy vrou, Roelien, is in haar noppies met die ryding. "Dis baie prettig. Barry is 'n gesinsman wat graag tyd met sy gesin deurbring. Die kinders is nou al uit die huis uit, maar die toekomstige kleinkinders gaan dit vir seker geniet. Barry se pa van 90 jaar en oom Marius van der Merwe wat by ons woon, ry graag saam. Tannie Katriena van oorkant die straat het ook al 'n rit of twee meegemaak."
Roelien sê met dié dat die fiets soveel plesier verskaf en aandag trek, oorweeg hulle dit om dit aan vakansieoorde bekend te stel.
Barry sê die verkeersowerhede het hom nog nooit voorgekeer nie, maar hy ry nie in spitstye in besige strate nie. "As 'n donkiekar in die pad mag ry, geld dit seker vir ons fiets ook," meen hy.
Hulle gaan nog bietjie verbeter aan die ontwerp. Roelien wil graag 'n dakkie op hê en 'n mandjie agteraan sodat sy kan gaan inkopies doen, en hulle verander die fiets dalk nog in 'n viersitplek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'