Sanca het die inligting verlede Woensdagaand op hulle algemene jaarvergadering bekend gemaak. Volgens Brenda Pienaar, Sanca se bestuurder, het hulle die afgelope jaar 345 mense gesien en dit blyk dat alkohol- en dwelmmisbruik toeneem omdat meer mense by hulle om hulp aanklop. Sowat 40% is mans, 14% vroue, 16% seuns en 11% meisies.
Sy sê alkohol word steeds die meeste misbruik met 34% van gevalle wat daarmee gehelp word. Dit word gevolg deur dagga (27%) en tik (16%), terwyl 13% van gevalle verskillende soorte dwelms saam gebruik en 10% ander dwelms.
Pienaar sê sowat 66% van die gevalle is deur skole na Sanca verwys en 50% deur ouers of familie. Vier persone is deur die hof verwys en agt deur die Departement van Korrektiewe Dienste.
Die misbruik van alkohol en dwelms is die hoogste onder jong werkloses en die meeste wat by Sanca aangemeld het, het nog nooit voorheen enige behandeling ontvang nie.
Sanca het met hul voorkomingsprojekte, wat hul gewilde poppekas insluit, meer as 'n duisend mense bereik.
Hul poppekas het ses kleuterskole besoek waardeur hulle 663 kinders bereik het en groepwerk is by ses verskillende skole met 160 leerders gedoen.
Denise de Beer, 'n maatskaplike werker by Sanca, is geloof vir haar sukses met die sport-en rekreasiesentrum op Touwsranten wat in Januarie geopen is en uitstekende resultate onder werklose jongmense lewer.
Danksy 'n borgskap van Ou Mutual, kon sy 'n verskeidenheid toerusting aankoop waarmee sy die jongelinge uit die moeilikheid hou. 'n Soortgelyke sentrum word vir Rosemoor beplan.
Sue Wolmarans, die tesourier, het gesê Sanca se finansies is nie baie rooskleurig nie. Die organisasie moet self geld genereer en ontvang 'n staatsubsidie slegs vir salarisse. Hulle het aansoek gedoen vir 'n Lottoskenking, maar wag nog om te hoor of dit suksesvol was.

Sanca George het tydens hul algemene jaarvergadering ook ‘n nuwe bestuur gekies, van links, mnr. J Majiet, me. Jonel Kerspy, Joana Marx, Tiaan van der Burgh, Michelle van der Burgh, Marguerite van Schalkwyk, Johnathan Martin en Evelyn Schaap. Voor staan Brenda Pienaar. Foto: Lizette da Silva