GEORGE NUUS - As deel van pogings om die sakegemeenskap meer effektief vorentoe te neem, gaan George-sakekamer sy eie "sensusopname" hou. Dit staan bekend as Project Gateway.
Tussen 10 en 20 veldwerkers van die sakekamer gaan van vandag, Donderdag 24 Junie, sake-instellings besoek om meer inligting in te win.
Luidens 'n brief van Brenda Vorster, voorsitter van die sakekamer, is die visie van die instansie om 'n inklusiewe ekonomie te bevorder. Die sakekamer is reeds in 2002 gestig en die hoofsaaklike doelwit is om as besigheidsfasiliteerder op te tree en sakegeleenthede vir alle sakeondernemings te ontsluit.
Dit word gedoen deur alle sakeondernemings by te staan en byvoorbeeld opleidings- en netwerkgeleenthede te verskaf.
In die brief skryf Vorster dat George as een van die vinnig groeiendste stede in die land, oorloop van geleenthede. Om seker te maak dat 'n inklusiewe ekonomie gevestig word, begin die sakekamer met die versameling van inligting en opdatering. Dit sal kontakbesonderhede van alle ondernemings insluit.
Sy benadruk dat die inligting met geen buite instansie gedeel sal word nie. Dit sal slegs gebruik word vir kommunikasie doeleindes van die George-sakekamer.
Bernadette Schaap, bestuurder van die George-sakekamer, bygestaan deur Elsie Harmse, lid van die bestuurskomitee van die sakekamer, het by navraag gesê die instansie wil die oor en stem van sakeondernemings wees. "Ons wil weet watter verwagtinge die besighede het."
Dis egter belangrik om ook die daad by die woord te voeg en dit 'n stappie verder te neem.
Volgens hulle het Covid-19 sakeondernemings in George erg geraak. "Ons is dankbaar dat hulle nog bedrywig is. Ons wil hê mense moet plaaslike ondernemings steun en weet wat hulle kan bied."
Daar is ook ondernemings wat aanvullend tot mekaar kan wees. Om dit te kan regkry moet die inligting beskikbaar wees. Die veldwerkers sal die ondernemings besoek met 'n vraelys en die inligting insamel. Dit sal 'n geleentheid vir sake-ondernemings bied om aan die gemeenskap te kan verduidelik wat hulle kan bied.
Daar word gehoop om sowat 1 000 sakeondernemings te bereik. Dit sal na verwagting tot einde Julie duur. Die inligting sal daarna verwerk word.
Hulle het ook benadruk die inligting is slegs vir die George-sakekamer se doeleindes en geen derde partye sal betrokke wees nie.
The Business Chamber is launching a new initiative, Project Gateway, to collect data and contact information and do a data updrive of every business in the city. Fieldworkers will visit businesses in George. The information won't be shared with third parties and will only be used for communication purposes from the George Business Chamber.
Op die foto verskyn Elsie Harmese (heel links) en Bernadette Schaap (heel regs) van George-sakekamer by veldwerkers, Nosiphiwa Ntshongontshi, Naledi Lebodi, Philliso Gosa en Yonelisa Giqabha.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'