GEORGE NUUS - Die eerste betoging oor kospakkies het vanoggend in Rosedale kop uitgesteek.
'n Groep inwoners van Rosedale-plakkerskamp het omstreeks 09:00 met plakkate betoog oor die pakkies wat sedert Paasnaweek deur George-munisipaliteit uitgedeel word. Die kospakkies dien as tussentydse verligting alvorens kos van die provinsiale departement van sosiale ontwikkeling die gemeenskappe bereik.
Meer as 500 gesinne in Rosedale-plakkerskamp is tans werkloos en hulpbehoewend. Sedert verlede Vrydag is sowat 22 pakkies aan van die huisgesinne uitgedeel. Ontevrede inwoners het vanoggend voor Cynthia Bruinders, 'n oudraadslid van George, se huis in Rosedale vergader. Hulle het vreedsaam betoog en plakkate geswaai. Volgens een van die betogers, Miriam Mbodjma, is hulle gefrustreerd met die spoed waarteen pakkies uitgedeel word. Die keuses van begunstigdes word ook bevraagteken. Die polisie was vining op die toneel en het die skare versoek om eerder na hul huise te gaan. "Ons almal hier is honger in Rosedale. Niemand het werk of kos nie," het Mbodjma gesê.
Bruinders, wat ontwikkelingswerk in die gemeenskap doen, het gesê sy en 'n span ander mense, waaronder pastoor Melvin Roelfse, is tans besig om soveel moontlik mense op 'n databasis te registreer. Die inligting word aan George-munisipaliteit en die department van sosiale ontwikkeling aangestuur, om diegene wat in nood is te help identifiseer. "Ons versoek net dat hulle meer pakkies per dag aflewer. Die mense gaan mekaar binnekort begin eet. Ons het nie vir hulle 'n antwoord nie," het Bruinders gesê.
Roelfse het gesê die meeste van die inwoners is werkloos en ontvang 'n maatskaplike toelaag. "Die toelaag word gebruik om maklik 10 volwassenes en kinders - tot 14 mense in een huis - aan die lewe te hou," het hy gesê.
Munisipale bestuurder Trevor Botha, het vandeesweek op 'n soortgelyke klagte vanuit Borcherds gereageer. Botha het gesê die munisipale donasiesentrum ontvang kos in pakkies en los items, en dit word dan geregistreer en gebruik om volledige pakkies mee te maak vir 'n gesin van vyf, vir sowat sewe dae.
Die vars produkte word verskuif na sopkombuise wat tans meer as 7 000 mense per dag kosgee, asook hawelose projekte.
"Daar moet ook onthou word dat daar ander organisasies is, NGO’s en kerke wat ook kos versprei en dat die munisipaliteit nie beheer het oor hoe ander organisasies hulle verspreiding doen of wat in hulle pakkies is nie. Ons probeer om die pakkies wat vanuit die George-munisipaliteit se donasiesentrum uitgegee word so standaard moontlik te hou," het hy gesê. Dit is na aanleiding van klagtes vanuit Borcherds dat van die inwoners nie vleis of groente ontvang het nie.
Botha het gesê die afgelope naweek is die eerste kospakkies uitgedeel en dat die proses reeds aan die gang is om nog kos aan te koop en pakkies op te maak soos donasies inkom. Hy het gesê George is 'n groot munisipaliteit met meer 27 wyke, wat verspreiding verder kompliseer.
"Daar is nie ‘n konstante getal pakkies beskikbaar elke dag nie en dit hang van donasies af, asook van beskikbare winkelvoorraad, in ag genome die feit dat die groot kettingwinkels ook aan ander naburige munisipaliteite en dorpe voorraad voorsien."
Inwoners word versoek om ook van die munisipale sopkombuise gebruik te maak.
Hierdie sopkombuise is dwarsoor die gemeenskappe versprei en voed sowat 7 000 mense twee keer per dag.
Volgens Botha is wyksraadslede gevra om die mees behoeftige gesinne in hul wyk te help identifiseer. "Daar word ook gekyk na die ‘indigent’ lys – dit is huishoudings wat by die munisipaliteit geregistreer is wat minder as R4
500 ‘n maand in inkomste verdien. Donasie wat uit die donasiesentrum gestuur word, word deur lede van beskermingsdienste uitgedeel. Daar word streng register gehou van alle donasies wat by die sentrum afgelewer word, en mense wat donasies gee moet kontakbesonderhede verskaf. Die inhoud van die pakkies word aangeteken, en die huishoudings wat die pakkies ontvang moet daarvoor teken en hulle identiteitsdokumente wys sodat hulle ID nommer ook geregistreer kan word," het Botha gesê.
"Die munisipaliteit wil weereens bevestig dat die kospakkies ‘n interim-diens is wat nie deel uitmaak van die munisipale mandaat nie, en eintlik die Wes-Kaap Departement Sosiale Ontwikkeling se mandaat is. Die munisipaliteit doen sy beste om mense te help binne beperkte hulpbronne. Ons is die derde grootste munisipaliteit in terme van populasie in die Wes-Kaap (naas Kaapstad en Drakenstein/Paarl) met meer as 200 000 mense."
'n Skare van sowat 40 mense het vanoggend in Rosedale oor kospakkies betoog. Foto's: Lizette da Silva
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'