GEORGE NUUS - Twee groepe rokers is onlangs gesamentlik sowat R39 000 uit die sak gejaag ná beweerde sigaretsmouse verlede maand met hul geld verdwyn het.
In die eerste voorval het ‘n man van George ‘n groep vroue met sowat R30 000 probeer inloop deur hulle vooruit te laat betaal vir sigarette wat hulle tot vandag toe nog nie gekry het nie, maar met die hulp van ‘n plaaslike Facebook-blad, Lokasies Staan Saam (LSS), kon hulle daarin slaag om ten minste hul geld terug te kry.
“Hulle het hom gedreig dat as hy nie hul geld of die sigarette gee nie, hulle hom op LSS sal blootstel,” vertel een van dié groep se administrateurs, Brendon Adams.
In die tweede geval is nog ‘n groep vroue in Pacaltsdorp met sowat R9 000 ingedoen en die swendelaar weier om die geld of die sigarette te oorhandig. Volgens ‘n bron maak die swendelaar nou asof hy die vroue van geen kant af ken nie.
In nog ‘n voorval is ‘n vrou van George ingedoen toe sy uit desperaatheid ‘n e-sigaret wou aankoop. “Sigarette is onbekostigbaar en dit raak net al duurder. Ek het besluit om eerder in ‘n e-sigaret te belê,” vertel sy.
“Ek het R500 aan die verkoper oorbetaal. Sy sou daardie middag ‘n e-sigaret aflewer, maar sy het nooit opgedaag nie en haar kontaknommer bestaan ook nie meer nie. Ek kon gelukkig elders regkom, maar ek is my geld kwyt. En deesdae is R500 ‘n fortuin.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'