Video
GEORGE NUUS - Johan Smit, ’n inwoner van Suikerbossiestraat in Bergsig, sê hy is raadop met die konstante stank en onhigiëniese toestande wat volgens hom veroorsaak word deur rioolwater wat tydens swaar reën by ’n riooldrein op sy erf oorloop.
Volgens Smit gebeur dit byna elke keer wanneer daar hewige reën val. In sommige gevalle, sê hy, is die oorloop so erg dat rioolwater terugstu en selfs in sy huis beland.
Hy sê die rou rioolwater loop ook in die Katrivier in. Suikerbossiestraat is aan die rand van die groen gebied langs die Katrivier-natuurreservaat geleë. “Dit word elke keer net skoongemaak ná die tyd, maar dit los nie die oorsaak van die probleem op nie,” sê Smit.
Volgens hom het die probleem al lank voortgeduur en het die munisipaliteit reeds verskeie ondersoeke gedoen. Hy meen daar word telkens ’n tydelike oplossing toegepas, maar dat niemand tot dusver met ’n werkbare langtermynoplossing vorendag gekom het nie.
Smit vermoed dat daar ’n probleem met die stormwaterpypstelsel kan wees en dat die verouderde infrastruktuur nie die volumes water tydens swaar reën kan hanteer nie. Hy meen die pype moet moontlik vervang word, maar dat die koste daarvan ’n faktor kan wees.
Hierdie is egter Smit se mening, en die oorsaak van die probleem kon nie onafhanklik deur George Herald bevestig word nie.
Die video wys die omvang van die rioolprobleem by Johan Smit se huis in Suikerbossiestraat, Bergsig, nadat die riooldrein tydens die afgelope dae se reën oorgeloop het.
Smit is veral bekommerd oor die voorspelling van verdere reën volgende week en wat dit vir sy gesin en eiendom kan beteken. Hy sê die herhalende probleem het ’n ernstige uitwerking op sy gemoedsrus en sy gesin se lewensgehalte. “Ek is raadop en desperaat vir ’n werkbare oplossing,” sê hy.
George Herald het die munisipaliteit om ’n dringende reaksie genader. Die munisipaliteit het ontvangs van die navraag bevestig en aangedui dat ’n inginieur uitgestuur is om verdere ondersoek te doen. Daar was egter teen die publikasie nog nie ’n inhoudelike reaksie ontvang nie. Die munisipaliteit se antwoord sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.
Rou rioolwater wat agtergebly het nadat die riooldrein by Smit se huis in Suikerbossiestraat ná die afgelope dae se reën oorgeloop het. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’