GEORGE NUUS - Die naam is doodgeverf en die deure gesluit. Red Lion Lounge taverne in Conville is vir die laaste paar weke nie meer operasioneel nie. Dit volg na 'n hofbeslissing op 6 September oor dié eiendom op die hoek van Swawel- en Mentzstraat, wat stipuleer dat die taverne en 'n huiswinkel wat ook op die perseel aangebou is, onwettig aangebou is en nie korrek gesoneer is vir besigheidsgebruik nie.
George Herald het in Februarie verlede jaar berig oor die hangende hofsaak tussen George-munisipaliteit en die eienaar van die perseel, 'n voormalige raadslid, Rosina Lombaard.
Dié kuierplek het vir jare bekendgestaan as Rosina's Tavern. Dit is in 2022 aan Lauren Prince en haar suster, Kelly-Kay Prince verkoop.
'n Prokureursfirma het namens George-munisipaliteit 'n aansoek ingedien en die hof het bevind dat die addisionele strukture wat destyds deur Lombaard opgerig is, onwettig is in terme van die bepalings van die Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde Wet.
Dr. Kosie Haarhoff, waarnemende direkteur van menslike nedersettings, beplanning en ontwikkeling, het bevestig dat geen bouplanne ingedien is nie. "Dit spreek ook vanself dat strukture vir doeleindes van besigheidshandel in 'n residensiële area onwettig is," het hy gesê.
"Hulle het kans tot 1 Februarie 2025 om 'n grondgebruiksaansoek in te dien sowel as 'n bouplan. Die strukture is sonder 'n goedgekeurde bouplan en teenstrydig met die soneringskema opgerig."
Kosie Lindt en Meraai Pietersen loop vroegoggend verby die Red Lion Lounge, op die hoek van Swawel- en Mentzstraat, Conville. Lindt sê alhoewel hy nie juis die taverne besoek het nie, het hy wel soms rugby daar gekyk. Foto: Michelle Pienaar
Prince, Lombaard en die Wes-Kaapse Drankowerheid was respondente in die saak. Indien geen aansoek ingedien word nie kan die munisipaliteit aansoek doen om die geboue te sloop. Haarhoff het bevestig dat geen aansoek teen 25 September ontvang is nie.
George Herald het uitgereik na beide Prince en Lombaard, sowel as Prince se regsverteenwoordiger, Winston Jansen. Prince het nie op navrae gereageer nie en Lombaard was onbereikbaar op haar selfoon.
Op 'n vraag aan Haarhoff of Prince steeds 'n taverne vanaf 'n ander perseel met haar dranklisensie mag bedryf, het hy geantwoord dat die voorwaardes van die dranklisensie deur die toepaslike owerheid uitgeklaar moet word.
"Die dranklisensie het betrekking op die persoon én die gelisensieerde perseel. Ongeag of die okkupeerder oor 'n dranklisensie beskik, sal die bedryf van 'n onderneming vanaf enige perseel steeds onderworpe wees aan die bepalings van die George Soneringskema Verordening," het Haarhoff gesê.
Lombaard en Prince is verantwoordelik om die applikant, George-munisipaliteit, se regskoste te betaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’