Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Breuk in die waterpypleiding van die aftreeoord in die Kraaibosch Country Estate op Maandag 15 Januarie was blykbaar die soveelste in dié betreklik nuwe deel van die ontwikkeling.
Volgens inwoner Ruben Venter, was daar ten minste 10 pypbreuke in die jaar wat hy nou daar woon.
Die aftree-ontwikkeling binne Kraaibosch is slegs drie jaar oud.
Venter bevraagteken die vakmanskap en kwaliteit van materiaal wat met installasie gebruik is.
"Infrastruktuur wat so jonk is behoort nie soveel probleme te gee nie. 'n Mens begin wonder of dit so sal aanhou. Geweldig baie water word vermors en plaveisel of die padoppervlak word beskadig elke keer wanneer herstelwerk gedoen moet word."
Nelius Aggenbach, uitvoerende assosiaat van Kantey & Templer, die ingenieurs op die projek, het by navraag gesê dat konstruksiewerk gedoen word met baie faktore wat in ag geneem moet word, soos materiale, mense, tyd en die weer.
"Hierdie faktore word ten beste bestuur deur almal betrokke om 'n kwaliteit produk te lewer.
"Selfs met die nodige toewyding is daar ongelukkig steeds foute wat kan inglip.
"Die Kraaibosch-aftreeoordontwikkeling is nou ongeveer drie jaar voltooi en dit is nie normaal om pypbreuke so gou na voltooiing te kry nie. Die eerste breuke het almal in 'n kort tyd plaasgevind, kort na voltooiing en in 'n sekere seksie van die ontwikkeling.
"Na ondersoek is bevind dat die pypmateriaal vir hierdie seksie se pype foutief was en die pype is vervang."
Aggenbach het gesê die breuk wat Maandagoggend plaasgevind het, is in 'n ander gedeelte van die ontwikkeling en dit is nog nie seker of dit veroorsaak is deur vakmanskap of materiaal, of al twee nie.
Kyk 'n video hier:
Hy het gesê hoewel dit ontwrigting vir inwoners veroorsaak, is die munisipaliteit altyd vinnig om herstelwerk te doen. Maandagoggend se pypbreuk was die middag reeds reggemaak en watertoevoer na inwoners kon genormaliseer word.
"Die oorspronklike kontrakteur is ook reeds besig om skade aan plaveisel te herstel. Die latente defekperiode vir die projek is 10 jaar na voltooiing."
Water borrel deur die plaveisel voor die sentrum vir verswaktes in die oord.
Munisipaliteit verduidelik
Die waarnemende direkteur van Siviele Dienste by die George-munisipaliteit, Henry Jansen, sê slegs drie pypbarste is die afgelope drie jaar in die Kraaibosch-area aangeteken.
Klagtes wat met water verband hou in hierdie area is hoofsaaklik weens aansluitings en meterlekke.
"Alle dienste in ontwikkelings moet deur raadgewende ingenieurs ontwerp word volgens die munisipaliteit se standaarde, aan die munisipaliteit voorgelê word vir goedkeuring, en onder die toesig van raadgewende ingenieurs gebou word.
"Die munisipaliteit sal slegs infrastruktuur oorneem sodra dit aan nasionale standaarde voldoen, asook aan sy eie vereistes.
"Alhoewel die Kraaibosch-ontwikkelings relatief nuut is, is dit nie ongewoon vir insidente soos wateraansluitingslekke om aanvanklik voor te kom nie, veral terwyl huise gebou word.
"Hoofleidingsbreuke mag ook van tyd tot tyd voorkom weens foutiewe vakmanskap op die bouperseel of weens 'n vervaardigingsdefek."
ARTIKEL, VIDEO EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'