GEORGE NUUS - Pypbarste is 'n gereelde verskynsel in George. 'n Inwoner van die Blanco/Heatherpark-omgewing het haar na die soveelste pypbars in dié woongebied na die George Herald se Facebook-blad gewend.
So lui haar vraag: "Hoekom vervang die munisipaliteit nie vir 'n slag net ons pype en fittings in Blanco/Heatherpark-area nie? Daar is bykans elke maand 'n pyp wat bars in die area dan moet ons vir dae sonder water sit. Dit raak nou effe afgesaag."
Die inwoner stel voor dat die gemeenskap dalk munisipale belasting moet weerhou tot die pypleiding herstel is.
Volgens die direkteur van siviele ingenieursdienste, Regenald Wesso, is waterpype voortdurend onderhewig aan drukveranderings wat skielik of oor tyd kan opbou en meebring dat pype sporadies bars.
"Hierdie is tipies so ‘n geval en dus nie iets buitengewoon nie. Die netwerkpype is baie oud en ‘n vervangingsprogram op groot skaal is beskikbaar, maar in hierdie stadium nie bekostigbaar nie," het hy gesê. "Pype word gereeld deur middel van roetine-instandhouding vervang en herstel."
Wesso maan dat die dreigement om belastinggeld te weerhou nie ligtelik opgeneem word nie.
"Die betrokke inwoner word aangeraai om vertroud te raak met wetgewing wat sulke gedrag en dreigemente onwettig verklaar. Inwoners word verder aangeraai om formele klagtes oor substandaard werk of aksies waarmee ontevredenheid ondervind word, aan die munisipale bestuurder te rig."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'