Gallery
GEORGE NUUS - Die deelnemers van die Business Network International (BNI) en George Round Table 30 se potjiekoskompetisie is op Saterdag 3 Junie aangenaam verras deur die besoek van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde.
BNI is 'n internasionale organisasie wat soortgelyk is aan sakekamers en hoofsaaklik uit lede van privaat sake-ondernemings bestaan.
Die kompetisie was 'n deel van 'n dag vol pret en kuier waar sake-ondernemings se lede sosiaal kon verkeer en netwerk. Lede van George, Knysna en Mosselbaai was teenwoordig.
Die potte is reeds vroeg Saterdagoggend op die vuur geplaas en die geur van die kos het almal laat honger word. As jy nie honger daarvan geword het nie, was daar miskien iets fout met jou neus.
Toe Winde, vergesel van George se burgemeester en Leon van Wyk en Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid, deur die loop van die oggend daar opdaag was daar reeds 'n gesellige atmosfeer.
FOTOGALERY: BNI en George Round Table 30 se potjiekoskompetisie
Die wenners van die potjiekoskompetisie, BNI George, van links Christine Crous, Shane Peirce, Manie Maasdorp, Stefano Schoonees, Pieter Crous, Zane Pretorius en Cynthia Theron. Foto's: Eugene Gunning
Winde moes ongelukkig later vertrek as gevolg van ander verpligtinge. Van Wyk kon wel later die dag eerstehands van die kos proe want hy was een van die beoordelaars.
Niel Enslin van die George Round Table 30 het Dinsdag gesê dit het baie vir die aanwesiges beteken dat Winde en Van Wyk daar was.
Sowat 10 spanne het deelgeneem en daar was 100 deelnemers. Volgens Enslin is al die oorskietkos na die geleentheid deur die BNI en die Round Table na die Nagskuiling geneem. So is daar seker gemaak dat geen kos gemors word nie.
Die kompetisie is deur 'n span van George, BNI George, gewen. Spanne van Mosselbaai het die tweede en derde plekke ingeneem.
Hy het Winde, Van Wyk, Manie Maasdorp, voorsitter van BNI George, Johan Lochner, wat saam met 'n span die geleentheid gereël het en Wessels bedank vir hul hulp.
Beoordelaars het 'n moeilike taak op hande gehad. Van links is Lorraine Verhagen en Loannell Breytenbach van Group Editors, Leon van Wyk, George-burgemeester, Bernadette Schaap van die George-sakekamer en Danny Dreyer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’