GEORGE NUUS – Daar is sedert Donderdag 4 Maart op dwelms met 'n beraamde straatwaarde van R80 000 deur plaaslike polisie beslag gelê.
Op Vrydagoggend, 5 Maart omstreeks 01:00, het lede van die Outeniqua-K9 en Eden se misdaadvoorkomingseenheid in 'n gesamentlike operasie op dwelms van sowat R37 000 asook 'n onbekende bedrag kontant beslag gelê.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sers. Chris Spies, het die span op 'n huis in Melford Notshokovu Crescent, Lawaaikamp, toegeslaan.
"Tydens die soektog is 407 Mandrax-tablette, 130 gram tik en een 9 mm-ronde gevind," sê Spies.
Twee verdagtes van 41 en 45 jaar oud is in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklagte van dwelmhandel en die onwettige besit van ammunisie.
Die vorige dag, Donderdag 4 Maart, is dwelms ter waarde van sowat R4 600, 69 sakkies tik en 38 Mandrax-tablette by 'n huis in Makhazastraat, Thembalethu, gevind. 'n 30-jarige verdagte is in hegtenis geneem.
Dwelms en geld wat in Thembalethu gekonfiskeer is.
Later daardie aand is 'n vrou (19) in Zone 6, Thembalethu, in hegtenis geneem nadat 33 banksakkies dagga, 11 daggastoppe, 4 tik-lollies en 8 Mandrax-tablette in haar besit gevind is.
"Die polisie het ook beslag gelê op twee weegskale wat na bewering gebruik is om die verbode middels te weeg. Die verdagte staan tereg op aanklag van die besit van dwelms," sê Spies.
Verder is drie verdagtes tussen die ouderdomme van 13 en 43 in Ladismith, Oudtshoorn en George in hegtenis geneem op aanklagte van dwelmhandel ná sowat R37 000 se dwelms in afsonderlike voorvalle in hul besit gevind is.
Mandrax wat in Conville gekonfiskeer is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'