Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - In die bosse naby die hospitaal, langs die landdroshof, of sommer op die sypaadjie langs die "spieëltjiekasteel" (voormalige Sars-gebou).
Hierdie is almal plekke waar George se haweloses slaap.
Op Wêrelddag vir Haweloses, Dinsdag 10 Oktober, besoek die George Herald 'n uitreikaksie van die Christian Rehabilitation Ministry to the Homeless of George (Cremhog) in die Markplein agter Holy Cross Primary School.
Johannes Meyer, voorheen 'n passer en draaier van beroep, slaap snags langs die hof.
Hy kom in trane by die perseel aan en groet André Olivier, Cremhog se projekbestuurder, met 'n hartlike druk.
Sop en brood is op die spyskaart, tesame met Skriflesing en gebed.
Die groep mense wat agter die kiosk saamkoek ken mekaar baie goed.
"Hierdie is my mense," sê Greg, 'n karwag. Twee sussies, Rose en Chriszelda Malgas (al twee in hul twintigs) staan bymekaar en sop eet. Die een hou 'n toebroodjie vas vir haar vriendin wat op 'n ander plek bedel.
Die atmosfeer is gesellig, maar hartseer. Amper soos op 'n begrafnis.
Die stank van urine en ongewaste lywe hang swaar in die lug.
Na die kos-en-bid-ritueel gesels André oor die organisasie se planne vir die volgende nege maande.
Kyk 'n video hieronder:
Die George-raad het onlangs beslis dat Cremhog 'n oop stuk grond in Stasiestraat, aan die onderpunt van Markstraat, kan benut om 'n perseel te bou waar haweloses kan oornag en uitvars met die oog op rehabilitasie.
Ofskoon hy nog nie amptelik terugvoering van die raad ontvang het nie, is Olivier baie opgewonde oor die besluit.
"Niemand hou van die mense op straat nie," het hy gesê. "Daar is genoeg regulasies om te sê die ouens hoort nie daar nie. Die probleem is daar is nêrens om hulle heen te neem nie. 'n Mens moet die ouens ontmoet en 'n verhouding bou."
Volgens Olivier is die ideaal om haweloosheid met die hulp van die wetstoepassingsdepartement en die gemeenskap aan te spreek.
"Wetstoepassing moet 'n mandaat hê waarvolgens hulle kan optree, en 'n plek om die mense heen te neem. Die gemeenskap kan ook nie net kla nie, hulle moet help met borgskap of kundigheid."
Cremhog is deel van 'n taakspan van die departement van maatskaplike dienste wat onder leiding van raadslid Mercia Draghoender aandag aan haweloosheid gee.
"Cremhog beoog nie om die bestaande George-nagskuiling te vervang nie, maar om in die behoeftes te voorsien van diegene wat sukkel om by reëls en regulasies in te pas," het Olivier gesê.
"Dit gaan dien as 'n halfweghuis. Ons is nog besig met 'n beleid, maar die idee is om die ouens wat werklik wil, te help om weer in die samelewing 'n plekkie te vind."
Vir meer inligting oor Cremhog, kontak André Olivier by 082 551 8900 of stuur 'n e-pos na andre.olivier1962@gmail.com.
Lees 'n vorige artikel : Green light for homeless shelter
ARTIKEL, VIDEO EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'We bring you the latest George, Garden Route news'