GEORGE NUUS EN VIDEO - Die video van Kobus King van George waarin 'n vriend, Johan Naude, op Oujaarsdag met 'n plaashek 'dans' is al meer as 400 000 keer gekyk en meer as 8 000 keer op sosiale media gedeel.
King, die takbestuurder van Form-Scaff in George, het die video in die Baviaanskloof geneem terwyl hulle saam op 'n uitstappie was. Naude moes 'n hek in die pad oopmaak.
"Hy het die hek met so 'n danspassie oopgemaak en ek het vir hom gesê hy moet dit weer doen as hy die hek toemaak, want ek wil 'n video neem," vertel King.
Tot almal se vermaak het hy gehoor gegee en 'n paar passies met die hek gedans.
Dit was op die maat van Sal jy bly van Theuns Jordaan wat sy dogter, Nilene in die bakkie gespeel het.
Kyk die video hieronder.
"Johan is die ou wat daarvan hou om mense om hom te laat lag en dit is ook hoekom ek van hom hou as 'n vriend.
"Wanneer ons kuier word daar min oor die swaar dinge van die lewe gepraat," sê King.
Naude vertel: "Dit was maar vir die grap en ons het nie verwag dat so iets sou gebeur nie.
"Kobus het die video vir 'n paar pelle gestuur en ek weet nie hoe dit op Facebook beland het nie.
"Ek gee nie om nie. Solank ek net 'n paar mense se dag kan opbeur, is alles reg. My passie in die lewe is om mense te kan laat lag."
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'