Natasha (31) se uterus was egter so gedaan na die buitengewone swangerskap dat sy minder as 12 ure na die kleingoed se geboorte ‘n histerektomie moes ondergaan en twee dae in die intensiewe sorg-eenheid moes deurbring. Pa Vallon Barnard het ingespring en in dié tyd sy dogters saam met die personeel van die kraamsaal in George MediClinic versorg.
"Hulle was absoluut ongelooflik," sê hy. "Ek kan die verpleegsters nooit genoeg bedank vir hulle bystand nie - ek word eintlik in Junie eers 40, maar teen Maandagaand 11-uur was ek al 41!" skerts hy met ‘n breë glimlag.
Die drieling is die Barnards se eerste kinders nadat hulle vier jaar lank probeer swanger raak het, en uiteindelik vrugbaarheidsbehandeling ondergaan het. Natasha se ginekoloog, dr. Annemie Shuda, sê toe die sonar drie babas wys, was hulle almal ‘wit geskrik’. "Die risikofaktore met drie babas is net soveel meer, maar daar was nooit twyfel by my dat ons ál drie sou deursien nie. ‘n Dapper ma soos Natasha wat so lank vasgebyt het met die swangerskap is ‘n heldin in my boeke!"
Dr. Shuda vertel hoe sy uit die teater uit vir Vallon op die stoep moes gaan haal om die keisersnit mee te maak. "Hy wou van niks weet nie en het volgehou dat hy dit nie sal maak nie. Ek het hom doodeenvoudig aan die arm saamgesleep en ‘n dokter voor die teaterdeur staangemaak om te keer dat hy vlug - ek het gewéét hy sou homself nooit vergewe as hy hierdie groot oomblik misloop nie!" Nou stem Pa natuurlik saam, en kan hy nie genoeg kry van sy dogters nie.
Die Barnards het ten tye van die swangerskap ‘n huis gebou wat sal voldoen aan die behoeftes van die skielike groot gesin. Die drieling het ‘n yslike groot kamer met ‘n spesiale bababed wat hul pa vir hulle ontwerp het. ‘n Au pair is reeds ‘n paar weke gelede aangestel om die drie pienkvoete te help versorg.
"Maar al skryf jy niks anders nie," groet hulle met die loopslag, "sê net dankie, dankie, dankie vir ons dokter en verpleegpersoneel wat hierdie pad saam met ons geloop het. Ons kon nie sonder hulle nie."
.jpg)
ARTIKEL: MANDI BOTHA