GEORGE NUUS - Phambili-skuiling vir hawelose vroue en kinders is deesdae nog 'n tikkie veiliger met die wakende oog van Seal Security se manne. Die sekerheidsmaatskappy het inwoners toegerus met vyf paniekknoppies wat hulle enige tyd van die dag of nag kan gebruik.
Dit volg na verskeie ongewenste voorvalle waar boosdoeners by die perseel probeer inbreek het. Volgens die bestuurder, Maryda Squire, sukkel hulle al 'n geruime tyd met ongewenste karakters wat veral die ligte in hul parkeerarea steel.
Volgens Arnold 'Bossie' Boshoff van Seal Security het hulle maatskappy 'n hart vir die gemeenskap: "Phambili is verseker 'n brandpunt. Die vroue wat hier tuisgaan was al verskeie kere 'n teiken vir misdadigers en ons wil dit vir hulle gemaklik maak om hier te wees. Hulle moet veilig voel."
Seal Security het drie weke gelede hul dienste vir Phambili aangebied.
Phambili se bestuurder, Maryda Squire, het vandeesweek gesê die skuiling funksioneer goed dwarsdeur die pandemie, sonder enige Covid-19-positiewe gevalle onder inwoners.
"Covid het wel verskeie uitdagings gebring en dit was moeilik vir die jong kinders wat moes isoleer wanneer hulle na die skuiling kom," het Squire gesê.
"Een voordeel van die pandemie was dat ons inwoners kon kies om langer te bly, en dit het wel die kans gegun om ekstra programme saam met hulle te doen."
Maatskaplike werkers en hulpwerkers moes egter self hierdie programme aanbied, aangesien vrywilligers se veiligheid in aanmerking geneem moes word.
Die personeel het die tyd benut om verskeie opknappingswerk by die skuiling aan te bring, en alles lyk sommer vars, vrolik en sprankelend skoon - van die lenteblommetjies by die voordeur en die ontvangslokaal se nuut geverfde mure, tot die kleurvolle speelgrond en houthuisies waar terapiesessies plaasvind.
Hope Church het onlangs tydens 'n uitreikaksie al die speelapperaat by Phambili oorgeverf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'