GEORGE NUUS - Na die suksesvolle Artikel 424-aansoeke om die direkteure persoonlik aanspreeklik te verklaar vir die maatskappy se verliese en die opvolgende uitreiking van lasbriewe vir eksekusie om beslag te lê op die bates van die direkteure van die destydse George-gebaseerde finansiële dienste maatskappy, Niflas, het die mede-likwidateur, Danie Acker, nulla bona-opgawes van die balju in alle gevalle ontvang.
Nulla bona beteken die balju kon geen eiendom van die egpaar Pieter en Carina Strydom, die Strydom Familietrust of Niflas-direkteur, Jan Mostert, vind om op beslag te lê nie.
Die likwidateurs het toe aansoeke vir die sekwestrasie van al vier boedels gebring en op 27 Augustus 2021 is die boedel van Mostert finaal gesekwestreer.
Op 3 Desember 2021 het die boedels van Pieter Strydom, Carina Strydom asook die Strydom Familietrust dieselfde paadjie geloop en is finaal gesekwestreer.
Die trustee van hul insolvente boedels sal nou die sake van hul persoonlike boedels in diepte kan ondersoek vir vernietigbare voorkeure, vervreemding van bates en/of samespanning.
Die nuutste verwikkelinge volg na Niflas in 2015 bankrot verklaar is. Honderde mense - meesal ouer inwoners van die Suid-Kaap - het alles verloor: 'n massiewe som van sowat R150 miljoen.
Die likwidateurs het reeds R95 miljoen hiervan nagespoor. Mense moes noodgedwonge by hulle kinders gaan woon en selfmoordgevalle is ook aangemeld.
'Ek sal nie rus nie'
Die sogenaamde "Niflas-beleggings" wat nagespoor kon word, sluit in 'n hoë-risiko belegging van R60 miljoen in die mikrolener Bridge Corporate, 'n plaas naby Murraysburg, woonstelle in Swellendam, Grahamstad en George waarin Pieter Strydom se kinders gebly het, asook sy suster se crèche in Humansdorp en miljoene waarvan nie rekenskap gegee kon word nie.
In Maart 2020 het Regter Nathan Erasmus gesê dit is duidelik dat die Niflas-respondente betrokke was in onderduimse onderhandelinge tot voordeel van hulself en hul uitgebreide familie.
Acker het aan George Herald gesê die likwidateurs sal nie rus voordat soveel moontlik van die Niflas-kliënte se verlore geld opgespoor is nie. "Die direkteure se finansiële werksaamhede deur die jare sal oopgevlek word."
Pieter Strydom - Niflas
Debiteure en versekeringseis
In 'n onlangse omsendbrief aan die krediteure sê die likwidateurs hulle poog steeds om onbetaalde skulde van debiteure te verhaal en verskeie regsaksies is aanhangig gemaak.
Die likwidateurs staan ook krediteure by wat van voorneme is om 'n klasaksie teen die versekeraars in te dien om skadevergoeding te verhaal.
Jan Mostert - Niflas
Bridge-aandele
Bridge-aandele het in Desember teen een sent per aandeel verhandel, wat beteken dat die onversekerde Niflas-lening van R60 miljoen aan Bridge se aandelewaarde nou slegs R600 000 is. Die likwidateurs gaan voort om die prestasie van Bridge en die maatskappy se voorgestelde notering op die aandelebeurs te monitor.
'n Sesde en finale likwidasierekening sal eers geliasseer word sodra die likwidateurs oortuig is dat alle weë vir die invordering van verdere uitstaande skulde of bates verskuldig aan die boedel uitgeput is.
Carina Strydom - Niflas
Die Niflas-rolspelers is genader vir kommentaar, maar teen saktyd is geen reaksie ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'