Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Die stasiebevelvoerder van die Pacaltsdorp-polisie, kol. Hans Blaauw, het Sondagmiddag, 16 April, by 'n byeenkoms in New Dawnpark onder skoot gekom toe inwoners van die gebied geleentheid gegee is om hulle gedagtes rondom misdaadbestryding en dienslewering deur die stasie te lug.
Dit was tydens 'n vergadering wat deur die Pacaltsdorp-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) in samewerking met die polisie by New Dawn Park Primêr gehou is.
Dit was die eerste van 'n reeks soortgelyke byeenkomste wat beplan word in al die sektore van die stasie se bedienings-gebied. Ongeveer 30 lede van die publiek was teenwoordig.
Die algemene klagtes was stadige reaksietyd van polisielede, telefone wat nie beantwoord word nie, geen terugvoer op sake wat aangemeld word nie, geen polisiesigbaarheid nie, dwelmsmokkelhuise wat toegelaat word om met die medewete van die polisie voort te bestaan, en disrespek van polisielede teenoor lede van die publiek by die stasie. Hulle word glo selfs soms weggewys wanneer hulle 'n klag wil lê.
Volgens van die ontevredenes sal 'n ondersoekbeampte gewoonlik eers die volgende dag of dae later by 'n misdaadtoneel opdaag.
As gevolg van hierdie trae optrede, voel die gemeenskap des te meer blootgestel tydens beurtkrag wanneer misdadigers veral toeslaan.
'n Inwoner, Elandre Lamini, het gesê bewyse soos vingerafdrukke gaan verlore omdat die polisie nie betyds opdaag nie. "Maar as die gemeenskap die wet in eie hande neem, is hulle in die moeilikheid."
Vrae is gevra oor die aantal polisielede en voertuie waaroor die stasie beskik, want wanneer 'n noodoproep na die kantoor gemaak word, is die standaard antwoord dat daar nie 'n voertuig beskikbaar is nie.
Miena Yazo het gesê 'n hofinterdik het geen waarde nie, want die polisie tree nie op wanneer dit oortree word nie. "Jy kan maar doodgemaak word in jou eie plek, hulle kom nie uit nie. Maar maak jy jou aanvaller seer, is jy die een wat tronk toe gaan," het sy gekla.
Vera Lambert het gesê wanneer die buurtwag om middernag klaar gepatrolleer het, is die tyd wanneer die gevaar begin. "'n Mens kan nie slaap in die nag nie. Hulle (druggies) loop op en af in die straat."
Miena Yazo meen 'n interdik is niks werd nie, want die polisie tree nie op wanneer die voorwaardes daarvan oortree word nie. Foto: Alida de Beer
Kol. Blaauw antwoord
Blaauw het gesê diensleweringsklagtes kan by die Vispolhoof, kapt. Kama of by hom self aangemeld word. Persone met klagtes wat verband hou met geslags- of gesinsgeweld en waar interdikte ter sprake kom, hoef nêrens anders as na die polisiekantoor te gaan nie. Die polisiebeampte moet die klaer help met die nodige vorms en dit is nie nodig om eers na die hof te gaan nie.
Hy het gesê ontevredenheid oor te min polisielede en voertuie kan deur die platform van die GPF "vorentoe geneem word". Voertuie en polisielede word op nasionale vlak aan polisiestasies toegeken. "Ek gaan nie op hierdie stadium sê hoeveel lede werk in die nag, en hoeveel lede werk in die dag nie."
Oor die dwelmhuise het hy gesê Pacaltsdorp is die stasie wat die meeste dwelmoperasies uitvoer en het ook belowe dat die platform van die GPF gebruik sal word om die departement van maatskaplike dienste te betrek by die jeug wat verval weens dwelmmisbruik.
FOTOGALERY: New Dawnpark-buurt gesels met Pacaltsdorp Polisie
Hy wou nie kommentaar lewer oor beurtkrag nie, maar het net gesê dit het sekere tegniese impakte, spesifiek op radio's en telefone.
Rakende klagtes oor buurtwagte wat net tot middernag patrolleer, het Blaauw gevra dat lede van die publiek aansluit by die buurtwag in hulle omgewing. Hy het gesê die polisie het die publiek se samewerking nodig in misdaadbestryding.
GPF-voorsitter Charly Daman het gesê hulle is besig met 'n verslag oor die klagtes vir die distrikskommissaris en as dit nie werk nie, sal hulle die nasionale kommissaris nader.
VIDEO: Pacaltsdorp-inwoners se menings oor polisie se diens
VIDEO: Polisiebevelvoerder van Pacs reageer op klagtes oor dienslewering
Blaauw het die volgende kontak-nommers vir die Pacaltsdorp-stasie gegee:
- 044 803 9106/07
- 044 803 4732/33
- 044 803 4455
- Speurhoof: 082 778 7251
- Vispolhoof 082 302 5768
- Kol. Blaauw 082 522 3108
- Algemene noodnommer: 10111
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’