GEORGE NUUS - Shireen Noble van Pacaltsdorp is verlede Saterdag, 8 Mei, tot visepresident van Atletiek Suid-Afrika verkies. Sy is slegs die tweede vrou wat tot die senior amp verkies is.
Noble, 'n bekende in SWD-sportkringe, het al diep spore in atletiekkringe getrap. Sy was sedert 2011 die addisionele lid op die raad van Atletiek SA. Noble het reeds in 2009 by die administrasie van atletiek betrokke geraak.
Van 2002 tot 2006 was sy die notule sekretaris van Atletiek SWD.
Van 2007 tot 2009 was sy die tussentydse president. In Junie 2009 het sy die voltydse president geword. Sy het in die amp vir twee termyne van twee jaar elk gedien tot 2013.
Daarna is die grondwet van die instansie verander om voorsiening te maak vir 'n vier jaar termyn. Sy het die amp weer sedert 2017 beklee en maak eersdaags klaar.
In 2014 was sy die spanleier van die Suid-Afrikaanse jeug- en juniorspan na die junior atletiek wêreldkampioenskappe in Oregon, Amerika.
Oor die jare was sy ook baie betrokke by vrouekrieket. Sedert 1995 is sy betrokke by minikrieket by Pacaltsdorp Primêr. Sy is ook by die administrasie van die skool betrokke. Van 2004 tot 2012 was sy ook die voorsitter van vrouekrieket in die SWD.
Noble kom uit 'n sporthuis. "Ons het langs die sportveld grootgeword en sport was belangrik in ons huis." Haar pa, David Smith was 'n Springbok-rugbyspeler.
Sy sien uit na die nuwe uitdaging en verantwoordelikhede. "Sport behoort nie aan ons, die administrateurs nie. Ons moet daar wees om sport te ontwikkel. Deursigtigheid in sportadministrasie is baie belangrik."
Sy het gesê die SWD het potensiaal om goed te doen op atletiekgebied. "Ons het die atlete. Die geleenthede moet net geskep en benut word."
Sy sê ongelukkig is hier nie universiteite waar die atlete mededingend kan deelneem nie en van hulle vind 'n ander heenkome na skool. Sy sal baie graag wil sien dat die beplande tartan-atletiekbaan in George 'n realiteit word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'